Update
SUID-KAAP NUUS - Die Wes-Kaapse departement van landbou het op 14 Augustus bevestig dat die voëlgriepvirus wat tydens roetinetoetse op twee plase in die Heidelberg-distrik gevind is, die aansteeklike, hoog-patogene H5N8-virus is.
Volgens die Dieregesondheid Wet 35 van 1984, is voëlgriep, (meer korrek, Avian Influenza of AI), 'n beheerde siekte.
Die twee plase met altesaam 2 000 volstruise, asook plase binne 'n 3 km- radius, is onder kwarantyn geplaas.
Dit volg na uitbreking van die virus in Mpumalanga en Gauteng onder hoenders op kommersiële plase, waar sedertdien meer as 800 000 hoen-ders van kant gemaak is.
Invloed op die volstruisbedryf
Die uitvoer van rou volstruisvleis is onmiddellik gestaak toe nuus van die uitbreking in die noordelike provinsies rugbaar geraak het. Hitte-behandelde vleis mag steeds uitgevoer word, maar verdien minder as rou vleis op die oorsese markte.
"Saam met die droogte is hierdie uitbreking baie sleg vir die hele volstruisbedryf," sê Jurie Klue, boer van Klaarstroom.
"Volstruisboere het na die vorige uitbreking in 2011 net mooi hul voete gevind, toe kom die droogte, en nou volg hierdie nuwe uitbreking. Dit was baie sleg om oornag R600 minder per volstruis te verdien."
Die onsekerheid oor wat die toekoms inhou, is die ergste. "Met al hierdie dinge weet niemand wat gaan gebeur en hoe lank dit gaan duur voordat die verbod op die uitvoer van rou vleis weer opgehef word nie."
Die moontlikheid bestaan dat die volstruise weer, soos na die uitbreking van H5N2 in 2011, van kant gemaak sal word. "Die situasie word fyn dopgehou en besluite sal geneem word afhangende van die uitslae van die volgende toetse op die volstruise," sê Petro van Rhyn, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van landbou.
Laubscher Coetzee, boer van Volmoed, is van mening dat verskerpte biosekerheidsmaatreëls nie die virus kan stop nie. "Die enigste oplossing is inenting, maar tans word inenting verbied."
Hy meen die staat het nie geld om die volstruise van kant te maak nie. "Niemand gaan toelaat dat hul volstruise van kant gemaak word sonder vergoeding nie."
Naas verlies aan inkomste, kan die uitbreking ook tot dramatiese werksverliese lei, want na raming bied die volstruisbedryf werk vir tussen 13 000 en 15 000 mense.
Lees 'n vorige artikel: Toetsuitslae ingewag vir voëlgriep
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'