PLETTENBERGBAAI HENGELNUUS - Op Saterdag 17 November het vislyne van hengelaars regoor Eden styfgetrek te Plettenbergbaai toe die Eden-hengelassosiasie se vierde somerligakompetisie op die beeldskone kusdorpie afgespeel het.
Op die ou end sou Knysna-hengelklub, met 102.57 punte, daarin slag om bo die ander klubs uit te styg, en beide die top hengelaar – Renier Nortje met 67 punte – en top junior (O16) – Corner Noble met 12.38 punte – is van die Knysna-klub. Noble het ook die grootste eetbare vis, 'n steenbras van 6.19kg, ingekatrol.
Ander wenners op die betrokke dag was Leon van der Mescht van George-hengelklub met 11.4 punte, en was as top O21 hengelaar aangewys; Henrico Lesch van Outeniqua-hengelklub, met 1.62 punte, is as top grootmeester aangewys; en Jacobus de Jager van Atlantic-hengelklub in George is as top meester aangewys met 15.99 punte.
Die swaarste oneetbare vis was 'n swartpylstert van 55.36kg wat ingeweeg is deur Regard Lesch van Outeniqua.
Volgens organiseerders het die 136 hengelaars wat deelgeneem het altesaam 429.72kg se vis gevang waarvan 41 oneetbaar en twee eetbaar, alhoewel alle visse lewendig teruggeplaas is om bewaring te bevorder.
Die volgende kompetisie vind op 19 Januarie 2019 plaas.
Gabriel Slabbert van Triton-hengelklub in Mosselbaai met 'n swartpylstert van 52kg. Foto: Verskaf
Regard Lesch van Outeniqua-hengelklub in George met 'n swartpylstert van 55kg. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Plettenbergbaai, Tuinroete nuus'