Xavier Botha (o/20 mans) en Ben Jacobsen (o/15 seuns), beide van Knysna Hoërskool, en Gregory Cuthbert (o/13 seuns) van Oakhill Skool kon in die Kaap gaan deelneem nadat hulle by die proewe in Buffelsbaai gekeur is.
Volgens Donovan du Toit, spanbestuurder is net die beste jong branderplankryers gekies tydens die twee proewe wat op Buffelsbaai gehou is. "Hierdie jongmense het dus ook hul SWD-kleure verwerf in branderplankry en sodoende die Suid-Kaapse Branderplankryersvereniging verteenwoordig."
Die Mr Price Junior Branderplankrykompetisie is die grootste kompetisie van sy soort wat jaarliks die beste junior branderplankryers van regoor die land lok. Spanne van Zoeloeland, Kwa-Zulu Natal, die Grens, Boland, Suid-Kaap en Westelike Provinsie het deelgeneem. "Die drie branderplankryers van Knysna het goed gevaar, maar die kompetisie was straf en hulle kon ongelukkig nie tot die eindrondtes deurdring nie," sê Du Toit. Botha en Jacobsen is albei in die tweede rondte uitgeskakel, en Cuthbert is in die kwarteindstryd uitgeskakel.
Du Toit meen die weer en branders was ideaal tydens die kompetisie en dat hoogstaande vertonings gelewer is. Steven Hair, wat vir die afgelope 40 jaar al branderplank ry, was die afrigter van die span wat Kaapstad toe gegaan het. "Sy ondervinding en passie vir hierdie sport het ‘n groot bydrae tot die span se sukses gelewer," sê Du Toit.
Vanjaar se mededinging het op 27 September begin en met ‘n prysuitdeling op 3 Oktober tot ‘n einde gekom. In 2011 word
hierdie kompetisie in Durban aangebied.
ARTIKEL: ANOESCHKA VON MECK

Xavier Botha (Foto verskaf deur Adelita du Toit.)