Die kampioenskappe word beslis vanaf bote oor 'n tydperk van vyf dae in die baai-area van die stad. Slegs 4kg-breekkraglyne wat aan deelnemers uitgereik word, mag gebruik word.
Die weer het goed saam gespeel en daar kon al vyf dae gehengel word. Die hengelarea het heelwat groot skeurtandhaaie opgelewer. Met baie geduld, geluk en vernuf kon ‘n hele paar van hierdie grotes geland, gemeet en vrygelaat word. Op die derde dag het Gordon Phillipson van Mosselbaai die tweedegrootste vis van die toernooi, 'n skeurtandhaai van 61,19kg, geland wat hom die wenner van die dag gemaak het. Dit is ook 'n Suid-Kaap ope-rekord met 4kg-lyn.
Die bestendigste hengelaar van die Suid-Kaapse span was egter die nuweling in die span, Michael Jesse Vermeulen van Knysna Hengelklub wat algeheel derde in die 0/21-afdeling geëindig het en daarmee die bronsmedalje verower het, 'n groot prestasie in hierdie kompeterende sport.
Dank word uitgespreek teenoor die Departement van Sport, die Knysna Hengelklub, die Suid-Kaapse Ligtegerei-Hengelunie en almal wat gehelp het om die span se deelname moontlik te maak. Om meer uit te vind oor hengel as sport, kontak Gerrie Barnard by 083 412 8474.
Die Suid-Kaap se 0/21-hengelspan wat onlangs aan die ligtegereikampioenskappe in Port Elizabeth deelgeneem het, is (van links) Michael Jesse Vermeulen, Chann Barnard, Gerhard Barnard en Gordon Phillipson.
'Ons bring jou die nuutste Knysna | Tuinroete nuus'