TUINROETE NUUS - Die SWD Arende het verlede Saterdag in die hoofwedstryd van die o. 18 FNB Cravenweek, wat by Hoërskool Middelburg aangebied is, al vegtende ondergegaan teen die sterk span van die WP, om uiteindelik met 27 - 21 te verloor.
Die SWD was rustyd met 17 - 9 agter.
Die Suid-Kapenaars het nooit moed opgegee nie en was met ses punte agter en op die aanval, toe hulle tot die ontsteltenis van die groot skare die bal onnodig weggeskop het.
Die SWD kan hulself op die skouer klop vir 'n puik week waarin hulle die Vrystaat, met al sy Grey-spelers, geskok en daarna die Leeus maklik afgeransel het.
SWD was die enigste span wat gelyk het of hy die onoorwonne Streeptruie kon klop.
Vir die WP het Jadon Ocks, Josh Neill, Quintin Potgieter en Jeneall Davids drieë gedruk. Ethan van Biljon slaag met twee doelskoppe en 'n strafdoel.
SWD se drieë is gedruk deur Kai Pratt (Oakdale) en Anrich Scheffer. Virgil Pockpas slaag met 'n doelskop en drie strafdoele.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’