PLETTENBERG BAY NEWS - Wilderness Superstars het die afgelope naweek vir Formosa Phoenix met 31 - 13 in 'n SWD Kusstreek (Oostelik Divisie) oortuigend op hul tuisveld geklop.
Hierdie wedstryd is in Plettenbergbaai by die new Horizon-sportveld gespeel wat bygewoon is deur honderde rugbygeesdriftiges. Die wedstryd was vooraf as 'n grote beskou omdat Superstars onoorwonne is en Phoenix, tot dusver slegs een wedstryd verloor het.
Eerste helfte
Die eerste helfte was 'n klassieke geval van wie hul oë eerste sou knip, met bitter min te kies tussen die twee spanne. Met die tuisskare as bykomende adrenalien agter hul blaaie, was Phoenix soos 'n windhond uit die blokke en het dan ook eerste bloed geruik met 'n strafskop.
As Superstars in die eerste sewe minute van spel twee keer hande op die bal gelê het, was dit baie, so dominant was Phoenix se algehele samespel.
Slegs verbete verdediging kon die tuisspan daarvan weerhou om selfs meer punte aan te teken en krediet moet gegee word aan die besoekers, want Phoenix was soos die Engelsman se, 'a man on a mission'.
Superstars het egter die aanvanklike sarsie klipharde reën en bliksemstrale oorleef sonder enige noemenswaardige skade en stelselmatig die wedstryd se tempo begin kontroleer.
Die ommekeer is bewerkstellig by die kontaksituasie en die afbreekpunte waar die besoekers meer klinies en rotsvas in hul benadering was. Phoenix se belowende aanvalle is telkens na die derde of vierde fase gefnuik deur spelers wat nie ontslae kon word van die bal nie, of die bal veilig beskikbaar kan stel vir herwinning nie.
Fisies was Phoenix se spelers in sommige gevalle ook nie opgewasse om twee verdedigende spelers terselfdertyd af te weer nie.
Superstars was daarenteen boonop gulsig om die bal af te neem terwyl ondersteuning klokslag byderhand was om te keer dat die opponent grond toe gebring word wat regmatig deur die skeidsregter gepenaliseer is.
Hierdie taktiek het Phoenix verhoed om die voordeellyn na willekeur oor te steek wat momentum gestuit het wat nodig was om 'n lywige agterstand uit te wis - verkieslik met vinnige drieë.
Hul onvermoë om te ontsnap uit hier wurggreep het paniek in die tuisspan gesaai met Phoenix se hanteringsfoute-ratio wat nou aansienlik in die wedstryd verhoog is.
So was omgekeerde-besit ook die fondasie wat Superstars met mening teruggebring het in die wedstryd met drie onbeantwoorde drieë waarvan een verdoel is.
Telling 21 - 6 (rustydtelling)
Tweede helfte
Wat ook al Phoenix se afrigtingskorps vir hul spelers gedurende rustyd gesê het, is enigeen se raaiskoot, maar dit het soos 'n bom gewerk.
Met die afskop van die tweede helfte het Phoenix dadelik die bal uit die lug geraap en sonder om 'n hand op enige speler te lê, doodluiters onder die pale gaan druk wat die moraal van hul span en ondersteuners wat geleidelik stillerig begin word het, weer aansienlik verhoog het.
Die blitsige vleuel van Phoenix, Chimani Williams was 'n moeilike kalant om vas trek.
Telling 21 - 13
Phoenix se aanslag hierna was weliswaar moedig en by tye deur hoe werketiek via hul agterste-driehoek gekenmerk, maar Superstars se verdediging was soos 'n ystermuur - jy kon nie deur, onder, rondom of bo-oor die struktuur hardloop nie - al wat vir jou gewag het was 'n koue en ongenaakbare metaalgordyn.
Met die daaropvolgende spel het Superstars by twee geleenthede die kans gehad om die wedstryd se gorrel af te sny met strafskoppe binne trefafstand waarvan slegs een in die kol was.
Telling 24 - 13
Evril Elbrecht van Superstars se dartellopies het die skare deurgans op hul voete gehad.
Net voor die skeidsregter die eindfluitjie geblaas het, het die besoekers verder sout in Phoenix se wonde ingevryf met nog 'n verdoelde drie onder pale moontlik gemaak deur briljante balverspreiding.
Eindtelling 31 - 13
Met hierdie oorwinning het Superstars nou hul voorsprong op die punteleer vergroot na 49 punte na 12 wedstryde.
Retrospek
In retrospek dui die redelike groot loesing nie die werklike realiteit van die wedstryd aan nie, inteendeel.
Phoenix het in ander aspekte hul man deeglik gestaan - veral in die skrums en lynstane. Hul korrelwerk pale was ook akkuraat en hul skoppe uit die hand was ook bevredigend.
Waaraan nou gewerk moet word is diepte op die reserwebank tesame met kondisionering in sekere posisies sowel as wedstrydbestuur- die talent en spelers is definitief daar vir Phoenix wat nog groot honde se tjank hierdie seisoen gaan aftrap.
Hul segetog vanjaar met agt wedstryde gewen en slegs twee verloor, spreek boekdele van hul massiewe potensiaal.
Beslis 'n veer in die hoed vir Phoenix as 'n mens in ag neem dat hierdie span maar slegs twee jaar oud is en soos sy naam aandui, "uit die as uit opgestaan het".
Puntemakers vir Phoenix
Cheslin Damons (skrumskakel) druk een drie/ Losskakel Shaun Jacobs klits twee strafskoppe oor.
Formosa Phoenix se volgende wedstryd is 18 Julie teen Dolphins in Kranshoek.
Puntemakers vir Superstars
Die agsteman Shane Phillips druk twee drieë. Kaptein en heelagter Eldrin Elbrecht en flank Mark Beukes druk een drie elk. Errol Zeelie (senter) slaag met vier doelskoppe en een strafskop.
Superstars se volgende wedstryd is 13 Julie teen Dolphins in Wildernis.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’