Video
RUGBY NUUS & VIDEO - Vir die jong Suid-Afrikaans gebore rugbyspeler Duhan van der Merwe, wat ingesluit is in die Britse en Ierse Leeus-span, het alles op 'n rugbyveld in George begin. Van der Merwe, 'n oud-Kwagga, sal in Julie en Augustus in Suid-Afrika kom toer.
Van der Merwe kom oorspronklik van George en hy het sy skoolloopbaan in 2013 aan Hoërskool Outeniqua voltooi.
Sy ouers, Alhan en Dulene van der Merwe en sy tweelingsussie, Simoné, woon steeds in George. Sy ouer, broer, Armand, wat ook van George kom, het al vir die Springbokke uitgedraf.
Maandag tydens George Herald se besoek aan Hoërskool Outeniqua het Piet Cloete, adjunkhoof sport van die skool, gewys waar Van der Merwe, 'n vleuel, destyds op die hoofveld uitgeblink het. "Net daar het hy van sy drieë gedruk toe hy in die skool se eerste span gespeel het," het Cloete beduie.
Cloete ken Van der Merwe baie goed. Hy het hom afgerig vandat hy in gr. 8 by die skool gekom het en het ook vir hom klas gegee in besigheidstudie.
In daardie stadium het sy ouer broer, Armand, wat toe in gr. 12 was, vir die skool se eerste span uitgedraf.
Duhan het eers later sy merk begin maak. In die beginjare het hy merendeels in die B-span gespeel. "Hy was 'n laat ontwikkelaar."
In 2010 het Duhan baie hard begin oefen. "Sy liggaam het daarop gereageer," het Cloete gesê.
In 2011 het hy die skool se o.16 A-span gehaal en ook die SWD Grant Khomo-span.
Kyk 'n video hieronder.
Piet Cloete, adjunkhoof sport van Hoërskool Outeniqua in George. Dis op die veld waar Duhan van der Merwe se rugbyloopbaan in alle erns begin het.
Insluiting in die skool se eerste span het in 2012 plaasgevind. Hy het ook die SWD Cravenweek- en SA skolespanne gehaal. "Ons het toe gedink hy kan dit ver bring. Hy was bogemiddeld."
In 2013 het hy dit weer reggekry. In daardie jare was een van sy spanmaats, Warrick Gelant, wat later Springbok geword het.
Na skool het hy 'n kontrak by die Blou Bulle gekry en nog later het hy 'n draai in Frankryk en Skotland gaan maak as gevolg van beroepsredes. Verlede jaar het hy sy toetsbuiging vir Skotland gemaak.
Volgens Cloete was Martin Oosthuizen destyds die agterlynafrigter by die skool. Oosthuizen, wat self op provinsiale vlak gespeel het, het 'n groot rol gespeel in Duhan se ontwikkeling. "Hy het die beste uit hom gehaal."
Cloete het gesê dit was nie moeilik om Duhan af te rig nie. Benewens rugby was hy ook 'n goeie atleet. Sy sterkpunte is sy grootte en sy spoed.
Hy sal 'n groot aanwins vir die Leeus wees. "Dis jammer dat hy nie vir die Springbokke speel nie. Dit sou baie lekkerder gewees het as hy vir die Springbokke gespeel het. Ek het nooit kon droom dat hy eendag vir die Leeus sou speel nie. Ek het altyd gedink hy sal vir die Springbokke uitdraf."
Cloete het benadruk dat die skool baie trots is op hom. "Dit is bitter min skole wat kan spog met 'n Springbok en 'n Leeu uit een gesin."
Die hoofveld van Hoërskool Outeniqua in George. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'