RUGBY NUUS - Net die rugbyspanne van Heidelberg en Albertinia sal Saterdag tuiswedstryde aanbied.
Seagulls speel weg teen Thistles terwyl Riversdal Blues na Mosselbaai reis om Barbarians aan te durf.
Heibi speel op sy tuisveld teen Blanco en hy behoort nie te veel probleme te ondervind om die besoekers uit George om te klink nie. Blanco is tans in die agtste plek op die puntelys en hy sukkel om sy wegwedstryde te wen.
Heidelberg, daarenteen, is aan die opmars en het nog net vanjaar teen die voorloper in die Super A-liga, Evergreens, verloor. 'n Volpunte oorwinning wink vir Heibi en die gaping van vier punte tussen die twee topspanne in dié liga kan dalk krimp.
Evergreens pak vir Crusaders, wat tans in die vyfde plek lê, en hier kan 'n taai kragmeting verwag word. Evergreens sal moet uithaal om vyf punte in te samel en dit kan Heibi baat.
As die Blues kan voortbou op sy onlangse stewige vertoning teen Heibi, sal dit as geen verrassing kom as hy Barbarians klop nie. Maar die Riversdallers kan hulle klaarmaak vir 'n reusestryd en dit gaan 'n grootse spanpoging verg om die tuisspan daar te klop.
Barbarians lê tans in die sesde plek met die Blues elfde.
Albertinia Rangers (2de op puntelys) pak Harlequins (3de) en hier kom 'n groot koppestamp Met 'n tuisveldvoordeel behoort hulle darem as gunstelinge op te draf.
Seagulls, wat vanjaar puik rugby speel en die pas aangee in die Super B-liga, behoort Thistles maklik te klop al speel hulle weg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’