RUGBY NUUS - Dit blyk dat alle kommer oor Manie Libbok se skopvermoë tydens die Springbokke se toets teen Tonga in die Wêreldbekertoernooi in Marseille, Frankryk, op Sondagaand, 1 Oktober, heeltemal ongegrond was.
Hy het Sondag op die plaasvervanger-bank gesit en het Handré Pollard, wat as die aanvanklike loskakel begin het, na ongeveer 50 minute vervang. Tot daardie stadium het Pollard al vier van sy doelskoppe suksesvol aangeteken.
Toe Libbok sy opwagting gemaak het, was dit vinnig duidelik dat hy sy skopskoen saam met hom gebring het. In teenstelling met die toets teen Ierland, waar hy met sy stelskoppe gesukkel het, het hy Sondagaand wel met sukses twee doelskoppe aangeteken.
Rugbykenners het na die wedstryd net lof gehad vir beide spelers en is dit eens dat daar vir beide plek is in Springbokke se 23-tal. Daar is 'n gevoel dat Pollard eintlik vir Libbok gehelp het. Toe Libbok opkom het Pollard reeds 'n stewige fondament gelê.
Die druk was minder op Libbok en hy kon fokus op sy eiesoortige spel wat van hom 'n sleutelspeler maak.
Libbok het sterk bande met George. Hy was in 2014 en 2015 by Hoërskool Outeniqua. In beide jare het hy vir die SWD Cravenweek span uitgedraf. In 2015 het hy ook die SA skolespan gehaal.
Piet Cloete en Martin Oosthuizen van Kwaggas was toe betrokke by sy afrigting. Dis algemeen bekend dat Cloete toe al verwag het dat Libbok dit nog ver sou bring op die rugbyveld.
Oosthuizen wat destyds betrokke was by die afrigting van die agterspelers, het Dinsdag gesê Libbok het natuurlike talent.
Hy het dit reeds op skool gewys. Dis natuurlike talent wat bestuur moet word.
"Ervaring kan nie gekoop word nie. Dit word met tyd gebou. Hy is besig om te ontwikkel. Hoe meer dit gebeur, hoe meer ervaring sal hy opdoen wat sal beteken hy skop beter pale toe.
"Ek glo sy sukses-persentasie sal verbeter."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’