KNYSNA NEWS - Die talentvolle rugbyspeler Bradley Luiters van Knysna het onlangs die opwindende nuus ontvang dat hy gekies is om van 26 November tot 1 Desember saam met die SAS Sewesrugbyspan na Dubai te toer.
Luiters is tans verbonde aan die Stellenbosch Sport Academy, waar hy sy vaardighede verder ontwikkel en slyp. Hy beskryf die geleentheid as 'n groot stap in sy rugbyloopbaan.
"My doelwit is om 'n professionele rugbyspeler te word en ek werk baie hard met alles in my vermoë om dit moontlik te maak. Vir nou is my hoofdoel om 'n kontrak by 'n professionele klub te bekom," sê hy.
In 15-man rugby is hy 'n veelsydige agterspeler wat op posisies 13, 14 en 15 uitblink, terwyl hy in sewemanrugby bekend staan as 'n playmaker en finisher.
Bradley het reeds in 2023 die aandag van afrigters getrek toe hy gekies is om saam met die SWD o. 21-span te speel. Weens 'n besering kon hy egter nie daardie jaar voortgaan nie, maar sy harde werk en toewyding het hom vanjaar weer 'n plek in die span besorg.
Die reiskoste vir die toer na Dubai beloop ongeveer R30 000, en die Knysna-gemeenskap is reeds besig om fondse in te samel deur onder meer boereworsverkope en ander inisiatiewe.
Enige individue of besighede wat hom graag wil ondersteun, kan Luiters direk kontak by 084 806 3786 of 083 402 2637.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’