PLETTENBERGBAAI NUUS - Jaguars-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag 'n 27-23 oorwinning oor Knysna United beklink in 'n naelbytstryd wat tot in die laaste minute spanning en drama gelewer het.
Die wedstryd is op die Crags se sportveld in Plettenbergbaai gespeel.
Die tuisspan het vroeg die toon aangegee toe hul senter met 'n skitterende beweging twee verdedigers geklop het ná 'n goed uitgevoerde agterlynbeweging.
Kort daarna het hul skrumskakel in die hoek oorgedruk vir sy eerste drie van die dag om die telling op 10-0 te bring.
United het egter vinnig teruggeveg met 'n strafdoel en daarna 'n pragdrie in die hoek om sake gelyk te trek op 10-10.
Die momentum het voortdurend gewissel, met die besoekers wat die skare stil gehad het en Jaguars wat weer moes terugveg om beheer te herwin.
Die tuisspan het hul voorsprong herstel toe hul flank deur die verdediging gebars het om onder die pale gaan druk om die telling 17-10 te maak.
Net toe dit lyk of Jaguars beheer neem, het Knysna United weer teruggeslaan met 'n onderskepdrie onder die pale, wat die rustydtelling op 17-17 gebring het.
Tweede helfte
In die tweede helfte het Jaguars met hernude intensiteit uit die blokke gekom om twee verdere drieë te druk wat die wedstryd in hul guns geswaai het. Knysna United het slegs met twee strafdoele geantwoord, maar kon nie die agterstand uitwis nie.
Weliswaar het die eindfluitjie beide verlig-ting en vreugde vir die tuisspan gebring wat daarin geslaag het om hul onoorwonne tuisrekord tot dusver vanjaar te behou.
Die afrigtingskorps van Jaguars het na die wedstryd groot lof gehad vir Knysna United se veggees en volgehoue druk regdeur die wedstryd.
Jaguars se B-span was ook aan die wenkant met 20-19.
- Puntemakers vir Jaguars (A-span)
- Romano Christians (een drie)
- Juvandre Kriga (twee drieë )
- Roshe Harris (drie drieë)
- Abrian Willemse (een doelskop)
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’