KNYSNA NUUS - Ten spyte van deurdringende reën die vorige aand, kon Hoërskool Knysna se interskole-kragmeting teen Victoria Park van Gqeberha verlede Saterdag in pragtige sonskynweer voortgaan.
Hoewel die rugbyveld sopnat was, is al die wedstryde darem suksesvol afgehandel en het die dag in uitstekende gees verloop.
Knysna Hoër se netbaldogters was die uitblinkers van die dag en het vyf van hul ses wedstryde gewen. Slegs die eerste span het ná 'n taai en spannende kragmeting met 20 - 22 vasgeval.
Die besoekers van Gqeberha het egter die botoon gevoer in muurbal en hokkie, waar hulle skoonskip gemaak het. Knysna kon darem twee van sy vyf rugbywedstryde wen, hoewel die eerste span ná 'n harde stryd met 14 - 19 die knie moes buig.
Knysna se eerste hokkiespan het hul wedstryd met 1 - 4 verloor.
Die interskole-kragmeting het groot sportmangees en sterk ondersteuning van spelers en toeskouers opgelewer.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’