GEORGE NEWS - Ná drie agtereenvolgende oorwinnings, teen moeilike teenstanders, sal die SWD Arende se selfvertroue beslis ’n stewige hupstoot gekry het vir Saterdagmiddag se kragmeting teen die Toyota Cheetahs op Outeniquapark in George.
“Maar hierdie kan sekerlik ons grootste toets tot dusver wees teen ’n span met diepte en wat wemel van opwindende spelers wat bekend is vir hul aanvallende spel.”
Só sê die Arende-hoofafrigter, Heyneke Meyer, oor dié groot toets wat voorlê. “Ons sal op ons beste moet wees en ons besef wat dit gaan verg om die Vrystaters op ons tuisveld om te klink. Maar ons hou ons voete plat op die grond, bly gefokus op die moeilike stryd wat voorlê en wil net ons allerbeste gee vir Saterdag.”
Die Arende het in hul oorwinning met 43 - 40 die afgelope Saterdag teen die Valke ’n paar spelers weens beserings verloor, maar Meyer sê het hy het groot geloof dat die plaasvervangers hul kant sal bring. “Ek het volle vertroue in al my spelers en vir ’n paar plaasvervangers is dit ’n gulde geleentheid om te bewys dat hulle op dié vlak druk kan hanteer.’
Hy sê die Cheetahs gaan ’n groot karaktertoets wees en die Arende sal veral hul verdediging moet opskerp, iets wat teen die Valke gelol het.
“Teen ’n span wat daarvan hou om met die bal te hardloop, moet ons verdediging rotsvas wees.”
Hy verwag ook ’n groot stryd in die vaste fasette waar die Vrystaters al menige teenstander tot oorgawe gedwing het.
Die Arende het vanjaar al bewys dat hy ’n gedugte kalant hier in die “Eagles’ Nest” is en besoekende spanne het dit aan die bas gevoel. “Voor ons besielende tuisskare wil ons net ons beste gee en die wenmomentum hier behou. Ons sien uiteraard weer uit na ’n goeie opkoms en ons is weereens ongelooflik dankbaar vir ons ondersteuners wat in hul hordes na Outeniquapark opruk met hul Arende-klere. Dit help baie met ons motivering en juis daarom wil ons groot energie na die veld toe bring.”
Meyer sê die Arende het teen die Valke weer groot karakter getoon. “Hulle het binne die eerste tien minute twee keer gaan druk om met 12 - 0 voor te loop. Hoewel ons nie op ons beste was nie, het die spelers aanhou veg en die rustydtelling na 26 - 26 geneem. Ek is ongelooflik trots op die spelers se deursettingsvermoë en die manier waarop hulle die druk van ’n baie goeie teenstander - op húl tuisveld - gehanteer het.”
Goeie nuus vir die Arende is dat twee van sy sleutelspelers, Fred Zelinga (losskakel) en Abner van Reenen (heelagter), van hul beserings herstel het en in die beginspan kan opdraf.
Die wedstryd op Outeniquapark begin om 15:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’