RUGBYNUUS - Klubrugby in die Suidwestelike Distrikte (SWD) is gesond en een van die beter eindstryde is die afgelope Saterdag op Outeniqua Park gesien toe Groot-Brakrivier en Heidelberg mekaar in die eindstryd van die Premierliga gepak het om die 2023-seisoen mee af te sluit.
Dié twee spanne het geen genade betoon nie en 'n volgepakte stadion is getrakteer op heerlike hardlooprugby met Brakkies, wat uiteindelik met 31-25 koning gekraai.
Vir Heidelberg was dit die tweede jaar agtereenvolgens dat hy die veld as strooijonker moes verlaat ná hy ook verlede jaar teen Crusaders die knie moes buig.
Beide spanne was top-fiks en die agterlyne het goed met die voorspelers gekombineer om die bal die meeste van die praatwerk te laat doen. Wat die vaste fasette betref was die stryd tussen dié twee bulspanne taamlik gelykop en hulle het mekaar met veral rotsvaste verdediging goed in toom gehou.
Groot Brak het vroeg in die wedstryd die eerste bres geslaan deur met 'n onverdoelde drie agter Heidelberg se doellyn te gaan kuier en die Brakkie-ondersteuners was verder in vervoering toe daar ook met strafskop punte behaal is.
Heidelberg het egter net voor die rustyd self gaan afrond en met die suksesvolle doelskop en die telling 8-7 is 'n goeie tweede helfte in die vooruitsig gestel.
Aanvallende rugby
Die spelpeil is nog 'n rat hoër gelig vir die laaste 40 minute en aanvallende rugby en nóg dodeliker verdediging is deur beide spanne opgedis. Dit was egter opmerklik dat Groot Brak se agttal die skroewe al hoe stywer begin draai het, terwyl die losvoorspelers van beide spanne baljaar het met omgekeerde besit van waar goeie aanvalslyne gehardloop is.
Met net sowat drie minute se speeltyd oor, het Heidelberg die beker in sy hande gehad met die telling 22-19. Ongeoorloofde spel in die doodsnikke het gelei tot 'n strafskop vir die Brakkies waarmee gee 'n fout gemaak is nie en 'n bykomende 20 minute moes bygespeel word om die wenner uiteindelik te bepaal.
Net ná 'n waterbreek voor die laaste skof getakel is, het Heidelberg vroeg die inisiatief geneem deur met 'n strafskop te slaag, maar daarna het sy dissipline hom in die steek gelaat terwyl 'n meer gefokusde Groot Brak munt daaruit geslaan het deur met drie strafskoppe pale toe slaag om die eindtelling 31-25 te maak en 'n nuwe kampioen gekroon is.
* Lees ook stories op bladsy 30.
Sachin Toring, skrumskakel van Brak, se skopvoet was goud werd vir sy span se oorwinning.
Hughan Meyers, vaskopstut van Heidelberg, met die bal in hand op die aanval.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’