TUINROETE NUUS - Die rugbyspan van die SWD Arende het gisteraand in 'n opwarmingswedstryd op Outeniqua Park in George teen die DHL Stormers met 64-26 die knie gebuig, maar die tuisspan het met eer uit die stryd getree.
Selfs John Dobson, afrigter van die Stormers, moes toegee dat sy span deeglik getoets is.
"Die telling weerspieël glad nie wat in die wedstryd gebeur het nie. Die fisieke manier waarop hulle (die Arende) ons aangevat het, het my verras en dit voorspel goed vir dié span met die oog op die seisoen wat voorlê. Dit was 'n harde wedstryd en ons ouens sal dit môre (vandag) weet," het hy gesê.
Die Arende het gesukkel in die skrums en die ingooie by die lynstane was ook beroerd, maar aan durf op die verdediging het dit nie ontbreek nie.
Veral die nommer 4-slot, Ethan Stuurman, het die oog getref met sy vreeslose inklimspel.
Die Arende speel eerskomende Vrydag weer op Outeniqua Park teen 'n WP XV-tal in 'n voorwedstryd wanneer die Stormers en die Sharks mekaar die stryd aansê ook as 'n voorseisoense wedstryd ter voorbereiding van die Verenigde Rugbykampioenskap, wat op 21 Oktober afskop.
Die Stormers se openingswedstyd in dié reeks is op 21 Oktober teen die Leeus en die wedstryd vind op Ellispark beslis.
Die Sharks moet na verlede jaar se kampioenspan se domain in Munster reis om hul veldtog mee af te skop.
Die wedstryd op Outeniqua Park aanstaande Vrydag is dus basies die laaste kans wat dié twee spanne het om hul vere reg te skud vir dié strawwe kompetisie en 'n rare geleentheid om die twee spanne in aksie te sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’