TUINROETE SPORT NUUS - Barbarians se vyftiental het Saterdag, 13 Julie op Plettenbergbaai 'n begeesterde Jaguars-span die loef afgesteek en met 46-32 oortuigend gewys dat die span weer op die wenpad is.
Dit was allermins 'n maklike oorwinning en tot in die tweede helfte moes ondersteuners naels kou voordat Barbarians met 'n paar skitterende drieë die punte opgestapel het.
Whalon Anthony, Barbarians se heelagter het die Jaguars laat rondstaaan met sy uithalerspel. Die skakelpaar Curtley Kiewiet en Henn-Botha is besig om in 'n sterk eenheid te ontwikkel. Curswin Mono, Barbarians se jong Arend wat Vrydagaand boonop 'n wedstryd vir die Arende gespeel het, was 'n inspirasie op die veld en het onmiddellik die spelpeil van die span gelig.
Die voorspelers raak ook net beter, maar die losvoorspelers met Buffel en Bekker moet beslis genoem word. Dié twee het met oortuiging gespeel.
"Die derde- en tweedespanne het weer eens goeie rugby opgedis en die fondasie vir die senior span gelê," sê Barbarians-voorsitter, Dawid Kamfer.
Barbarians, wat, Saterdag 20 Julie by die D'Almeida-sportgronde die Silver Stars pak, sal wil seker maak van 'n oorwinning onder die liga-voorlopers in te skuif.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'