GEORGE NEWS - In wat waarskynlik as die grootste terugvegpoging tot dusver vanjaar in die Curriebeker se Eersteliga-afdeling is, het die SWD Arende die afgelope Vrydagaand op Outeniquapark teen die besoekende Griffons met 'n fenomenale eindpoging 'n agterstand van 40 punte byna in 'n oorwinning omskep.
Die Griffons, wat met rustyd gemaklik met 33 - 0 voorgeloop het, het wel uiteindelik aan hul voorsprong van 40 - 31 vasgeklou, maar selfs hulle sal erken dat hulle vuisvoos was.
Die besoekers het nog lank ná die tyd in die kleedkamer getob oor hoe amper hulle dié oorwinning weggesmyt het.
Het die kragmeting nog tien minute langer geduur, is die besoekers druipstert teruggestuur na Welkom om hul wonde daar te lek.
Kom ons wees eerlik: menige spanne sal boedel oorgee as hulle teen rustyd al met 33 - 0 agter was. Aikona, nie die Arende nie.
Dié span het groot karakter getoon toe die kalf in die spreekwoordelike put was en met durf en daad teruggeslaan om 'n vernederende nederlaag ampertjies in 'n oorwinning te omskep.
Hul eerste punte is ná 18 minute in die tweede helfte aangeteken toe Marlow Weich (heelagter) in die hoek oorgeduik het. In die 23ste minuut het die Griffons weer toegeslaan met 'n blitsdrie om met 40 - 5 voor te loop.
'n Blitzkrieg met vyf drieë het die Griffons in die laaste 17 minute getref. Daar was net geen keer aan die Arende nie en spelers soos Damon Royle (flank en kaptein). Dian Basson (flank), Clive Kruger (senter, wat twee drieë gedruk het), Roscoe Syster (vleuel) en Michael Cloete (plaasvervangerflank), om net 'n paar uit te sonder, het met die bal baljaar en die Griffons se verdediging aan flarde geskeur.
Maar, eintlik was dit merendeels 'n indrukwekkende spanpoging wat die Griffons soos 'n tsoenami getref het.
Johan Lerm, waarnemende hoofafrigter, het in 'n onderhoud met Hugo Redelinghuys vertel teen rustyd was hy kwaai benoud, maar in hul vorige twee kragmetings teen die OP Olifante en die Grens Bulldogs het die Arende ná 'n groot agterstand teruggeveg en gewys dat dié span hope karakter het.
"Ons het aanvanklik sagte foute begaan en die Griffons toegelaat om langafstanddrieë te gaan druk. Die spelers het nooit ophou veg nie en toe ons die plaasvervangers opgestuur het, het daar 'n kentering gekom en het die spelers die tempo gelig."
Nou wag die Valke Saterdagmiddag in Kemptonpark en 'n week later is dit 'n tuiswedstryd teen die Luiperds.
"As ons sewe punte in dié twee kragmetings kan insamel, wink daar 'n tuishalfeindstryd op die Arende. Dis heel haalbaar en behoort as genoeg motivering vir elke speler te dien om die allerbeste uit hulle te haal."