SUID-KAAP RUGBY NUUS - Ondersteuners van die SWD Arende het verlede Vrydagaand op Outeniquapark sekerlik 'n groot sug van verligting geslaak - die uwe het beslis - toe die eindfluitjie blaas.
Die telbord jok nie en die tuisspan kon afstap met die wete dat hulle die Boland Kavaliers naelskraap met 31-27 kon klop. Maar die laaste twintig minute of so was dit benoude boude, want die Bolanders het desperaat vanuit elke hoek aangeval. Die handjievol toeskouers op die hoofpawiljoen se harte het sweerlik ophou klop toe die besoekers in die doodsnikke van die wedstryd 'n bonuspuntdrie gedruk het.
As dié kragmeting vyf minute langer geduur het ...
Maar, as is verbrande hout en die Arende het hul nederlaag vroeër die seisoen met die oorwinning omgedraai - hul vyfde vanjaar.
Die eerste helfte het redelik gelykop verloop, maar mens het tog die idee gekry dat die tuisspan die oorhand begin kry het. Ná rustyd het die hulle twee keer vinnig gaan druk en het dit begin lyk of die besoekers in die moeilikheid is soos die Arende in amper elke faset van die spel druk op hulle uitgeoefen het.
En toe? Toe stort die Arende se lynstane onverklaarbaar in duie en kry die Bolanders talle aanvalkanse op 'n skinkbord. En dit het hulle deeglik benut om terug te kom in die wedstryd.
Die Boland het hul teenaanvalle met vernuf en vaart geloods. Min ander spanne in die kompetisie skep só vinnig soveel ruimte.
In alle billikheid moet mens erken die Arende se oorheersing in die eerste helfte was meer werd as hul rustydvoorsprong van 10-7.
Daar was 'n paar oomblikkies in dié wedstryd wat die Arende moed kan gee vir hul kragmeting Vrydagmiddag in Kaapstad teen die voorlopers, die Westelike Provinsie.
Die agttal het oorheers in die vaste fasette en die Boland, veral in die skrums, verniel. Davon Raubenheimer, agtsteman, speel weer asof hy Bokaspirasies het.
Die senterpaar, Marlou van Niekerk (kaptein) en Tyler Fisher, hoef nie vir enige van hul eweknieë in die kompetisie terug te staan nie. Dis twee brekers wat met vaart en krag bresse in enige verdediging kan slaan. Dit het Fisher bewys toe hy die Boland se agterlynverdediging oopgekloof het vir sy drie - en vier Bolanders laat gras proe het.
Daar is eweneens hope spoed op die punte en Leighton Eksteen, heelagter, het 'n buitengewone vermoë ontwikkel om op die regte tyd op die regte plek op te daag en af te rond.
En agterlangs beheer Johan Steyn, skrumskakel, en Robbie Petzer, losskakel, die spel soos twee skaakmeesters.
Die WP lê en wag soos Everest. Maar dié berg word soms oorwin.
Tyler Fisher, sterk buitesenter van die SWD Arende, op pad na sy drie verlede Vrydagaand op Outeniquapark nadat hy vier verdedigers van die Boland Kavaliers met brute krag uit die pad gevee het. Lux Koza, stut, is links by vir ondersteuning. Die Arende het vergoed vir hul nederlaag vroeër die seisoen deur die Boland met 31-27 te klop. Foto's: Hugo Redelinghuys
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'