RUGBY NUUS - As die openingswedstryd van die 2026 Carling Curriebeker Eerste Divisie ’n voorsmakie was van wat voorlê, wag daar ’n onvergeetlike seisoen op rugbyondersteuners.
Die Dotsure SWD Arende het Saterdag in Potchefstroom met die Luiperds 44 - 38 afgereken in ’n wedstryd wat herinneringe aan die 2026 FIFA Wêreldbeker se openingswedstryd tussen Suid-Afrika en Mexiko, opwindend, onvoorspelbaar en propvol drama, laat herleef het.
Skeidsregter Jonathan Lee Lottering het gereeld sy kaarte uitgehaal in ’n stryd waarin altesaam vier geel kaarte en een rooi kaart uitgedeel is.
Die Luiperds se Brendon Khiwi is vroeg in die tweede helfte met ’n rooi kaart afgestuur, wat die tuisspan genoop het om vir ’n halfuur met 14 spelers voort te gaan.
Die Luiperds het die voortou geneem met ’n drie deur Shaun-Christian Baxter, maar die Arende het keer op keer geantwoord. Sisipho Nofuya, Gunther Janse van Vuuren, Masande Mtshali en kapt. Janus Venter het almal in die eerste helfte gaan druk om hul span in die stryd te hou.
Sinothando Tshonsyi was die tuisspan se groot gevaar en het twee keer gaan druk, terwyl Jandré Burger ook sy naam op die telbord geplaas het om die Luiperds teen rustyd met 26 - 24 voor te laat.
Waar die Arende in die eerste helfte deur hul voorspelers die grondslag gelê het, was dit hul agterlyn wat ná rustyd die verskil gemaak het.
Goeie beweging uit vaste fasette en skerp lynbreke het gelei tot drieë deur Niel Beukes, Ulrich Stander, Rosco Syster, Matthew Sekele en Sean Roulston.
Die impak van die plaasvervangers was onmiskenbaar en het die besoekers gehelp om beheer oor die wedstryd te neem.
Maar net toe dit lyk asof die Arende gemaklik huis toe sou vlieg, het dissipline begin verbrokkel. Drie geel kaarte in die laaste tien minute het beteken dat SWD met net 12 spelers moes verdedig.
Naiden Yards het die Luiperds se hoop laat herleef met laat drieë wat die spanning tot die laaste fluitjie laat voortduur het.
Die Arende het uiteindelik die karakter getoon om die storm te deurstaan en met ’n bonuspunt-oorwinning weg te stap. Die oorwinning plaas die Arende saam met die Griffons en Valke bo-aan die punteleer ná die eerste ronde.
Die volgende uitdaging wag reeds teen die Valke in George op 20 Junie om 15:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’