TUINROETE NUUS - Een van die bekendste toerismebakens in die Suid-Kaap, Kaart van Afrika, (Map of Africa) gaan weer vanjaar twee unieke wedlope huisves.
Dit staan bekend as die Cairo to Cape Trail Run en vind op 22 Oktober plaas.
Daar is 'n 21 km-wedloop en 'n 8 km. Dit is Maandag 18 Julie deur Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations, een van die organiseerders, bevestig.
Die geleentheid het verlede jaar die eerste keer plaasgevind en was baie gewild. Nie eers die reën kon toe die geesdrif demp nie.
Die terrein is ongetwyfeld een van die mooiste plekke waar wedlope kan plaasvind en dit stel groot uitdagings aan deelnemers. Die terrein is by sommige plekke moeilik.
As gevolg van die Covid-19-situasie moes getalle verlede jaar beperk word. Verlede jaar is gehoop dat sowat 100 deelnemers sou opdaag, maar 'n aangename verrassing het vir die organiseerders gewag. Uiteindelik was daar 427 deelnemers.
Vanjaar is Covid-regulasies nie meer van toepassing nie en die organiseerders maak voorsiening vir sowat 800 deelnemers.
Volgens Dippenaar het hulle baie positiewe terugvoer oor verlede jaar se geleentheid gekry. Mense het byvoorbeeld spesiaal van Johannesburg en Kaapstad gekom.
Dit is 'n unieke wedlope en die terrein is beslis 'n groot trekpleister. Deelnemers kry geleentheid om op die Kaart van Afrika te hardloop. Dit is soos om byvoorbeeld op Tafelberg te kan hardloop.
Vanjaar se geleentheid sal beslis groter wees en deelnemers sal deur 26 'Afrika-lande' kan hardloop. Daar sal naambordjies wees wat die onderskeie lande se name aandui.
Nog 'n pluspunt vanjaar is die steun van die George-munisipaliteit en George-toerisme.
Inskrywings is reeds ontvang. Ongelukkig sal die getalle beperk moet word as gevolg van die terrein. Die geleentheid is nie net vir hardlopers nie. Hul families sal by die begin- en eindpunt kan wag en stalletjies sal verversings verkoop.
Vir meer besonderhede en inskrywing gaan na Facebook Adventures Garden Route.
Lees meer op susterskoerant, George Herald
Deelnemers aan verlede jaar se geleentheid by Kaart van Afrika.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'