SUID-KAAP NUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se veldskietkompetisie, geborg deur Wildman, het begin April op die plaas Nooitgedag net buite Oudtshoorn plaasgevind.
Dit was 'n fantastiese skietdag met uitstekende resultate, geskiedkundige gebeure, verrassings en bowenal 'n openbaring.
Wildman se borgskap, gerugsteun deur Hornady, het soos gewoonlik nie teleurgestel nie. Hul advertensiemateriaal in die plaasdam het boonop 'n lekker atmosfeer geskep. Almal het ook in aanmerking gekom om by wyse van 'n gelukstrekking pryse te wen.
Die opening is behartig deur die vereniging se president Louis Welman. Hy het aangekondig dat daar as 'n proefneming, vir die eerste keer "bosboklammertjies" oftewel kinders onder 12 jaar aan die kompetisie sou deelneem. Hierdie aankondiging is met 'n groot applous begroet.
Oudergewoonte is daar op ses bane meegeding en daar is van skuts verwag om op verskillende afstande uit die staan-, sit- en lêposisies teikens en staalplate (ghongs) te skiet. Die baanuitleg was ook uniek omdat alle bane binne loopafstand van die parkeerarea geleë was. Genadiglik, was die temperatuur baie matig en van wind was daar feitlik geen sprake. Die ghongbane het ook 'n goeie uitdaging gebied deurdat die ghongs oor 'n wye area versprei was. Hierdeur is die skuts verplig om van posisie te verander.
Die administrasie is uit 'n karavaan onder die doringbome behartig, wat ook welkome skaduwee tydens die prysuitdeling gebied het.
Gesinsport
Enigiemand wat sou beweer dat skietsport nie 'n gesinsport is nie, sou maar vinnig Saterdag hierdie woorde moes sluk.
Tydens die kompetisie was die oudste deelnemer 78 jaar oud. Boonop het sy seun, asook sy kleinseun van 12 jaar oud deelgeneem. Daar was egpare, pa en seun, pa en dogter, pa met seun en dogter asook broer en suster.
Die prysuitdeling was baie interressant.
Die hoogste telling is behaal deur die junior, Leras van Zyl wat ook die junior afdeling gewen het, met Anlo Ferreira tweede en Marco Marx in die derde plek.
Junita van Zyl het gesorg dat die familienaam hoog gehou word en het in die afdeling vir vroue gewen, met Janine Nigrini in die tweede en Ronel Marx in die derde plek.
Die afdeling vir veterane is gewen deur Neil Basson met Johan Fourie in die tweede en James van der Linde in die derde plek.
Die afdeling van die "bosboklammertjies" (12 jaar en jonger) is gewen deur Izel Delport met 'n telling van 445,1 uit 'n moontlike 900 punte, kort op haar hakke was haar broer Christof Delport met 'n telling van 420 en in die derde plek was Roux Delport, wie se oupa tweede was in die afdeling vir veterane.
Die eerste twee "lammertjies" se pa, Christo Delport, het gewys waar hul talent vandaan kom deur met die goue medalje in die senior afdeling weg te stap. Niaan Fourie was tweede en Jacques du Plooy derde.
Trotse geskiedenis
Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging het reeds 'n geskiedenis van senior sowel as junior lede wat op nasionale vlak met die louere wegstap. Dit was 'n openbaring om te sien met watter selfvertroue die kinders onder 12 jaar die vuurwapens hanteer.
Dit is natuurlik 'n pluimpie aan die ouers wat met soveel geduld en ondersteuning die kinders afrig.
SJB het groot dank en waardering aan die borge wat dit moontlik maak om jaarliks die veldskiet aan te bied. Die gelukstrekkings skep ook 'n gelyke geleentheid aan almal om 'n waardevolle prys te wen. Vanjaar was dit toevallig die nommer van Leras van Zyl, wat die teleskoop ter waarde van R15 000 gewen het.
SJB wil ook van die geleentheid gebruik maak om lede en nie-lede uit te nooi na die Bay Guns geborgde skietdag op 27 April Prince Albert. 'n Junior skietkliniek word ook op 5 Mei aangebied by die Wouter de Vos-skietbaan op Klein-Brakrivier.
Vir meer besonderhede kan die kantoor geskakel word (044 695 2319), e-pos info@suidkaapjagters.co.za of vir Fermi Meyer (072 444 8236) aangaande die junior skietkliniek.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'