Video
TUINROETE NUUS - Die beste muurbal in Suid-Afrika gaan vandag, Vrydag 10 Julie, in Mosselbaai se stadsaal op ’n baan van glas gespeel word.
Só meen JP Brits, die direkteur van die 2026 Growthpoint Jarvis Kaplan-toernooi wat hierdie week in Mosselbaai, Groot-Brakrivier en George gespeel word - vandag is die finaal.
Dit is die eerste keer in hierdie toernooi se 66 jaar lange bestaan wat dit in die Tuinroete aangebied word.
“Ons is ongelooflik trots op hoe dit sover met die toernooi hier in Mosselbaai gegaan het. Al die spelers van regoor die land is aangenaam verras met hoe wonderlik dit hier is; hulle sê dit voel of hulle met vakansie is!” het Brits Woensdag gesê.
VIDEO: Brits vertel vóór die toernooi meer oor die glasbaan en Jarvis Kaplan
Louis van der Walt, die president van Eden-muurbal, het gesê dit is ongelooflik om die land se beste spelers hier in die Tuinroete te sien meeding.
“Die gehalte van die muurbal is van die hoogste, maar wat my die meeste beïndruk is die respek, sportmangees en kameraadskap wat op en langs die baan sigbaar is. Vir ons plaaslike spelers is dit ’n seldsame geleentheid om by die beste te leer en eerstehands te ervaar wat dit verg om op hierdie vlak mee te ding. Ons hoop dit sal die volgende geslag Eden-spelers inspireer om groot te droom,” het hy gesê.
Eden se spelers vorm deel van SA Plattelandse Distrikte (SACD), wat agt spanne, ses mans en twee vroue, by die toernooi gehad het. Brits, ’n Mosselbaaier, is die kaptein van SACD se A-span mans. Lizelle Muller is die vroue se A-spankaptein.
“SACD se week gaan goed sover. Die mans- en dames-A-spanne speel teen Northerns [Gauteng] in die finaal. Dit gaan verskriklik kompeterend wees,” het Brits voorspel.
“Ons motiveer die publiek om die geleentheid te kom ondersteun en die laaste dag se spel saam met ons te kom geniet. Dit is gratis!”
Die vroue se finaal begin om 08:00 en wedstryde duur gemiddeld tussen 30 en 45 min. Die mansfinaal begin 12:00, met wedstryde wat tipies tussen 40 en 60 min duur.
Vind die uitslae vir die week en vandag se program hier.
Dié spelers vat mekaar aan (SACD links en Northerns regs):
Mans:
1. Dewald van Niekerk vs Damian Groenewald
2. Reuel Videler vs Luhann Groenewald
3. JP Brits vs Judah Phillips
4. Gareth Craigen vs Jarrod Cousins
5. Rudi van Niekerk vs Connor Earl.
Vroue:
1. Lizelle Muller vs Helena Hudson
2. Alexa Pienaar vs Lara Patrick
3. Keschia Schlebusch vs Starla Phillips
4. Bianke Pienaar vs Kaylee Hunt
5. Chanté Leppan vs Jordin Phillips.
Group Editors se Jeff Ayliffe het vroeër vandeesweek met so ’n paar van die spelers gesels. Sien dié onderhoude hieronder:
VIDEO: JP Brits gesels na afloop van sy eerste wedstyd van die toernooi
* Hierdie berig is sedert publikasie aangepas om video-onderhoude in te sluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’