EDEN DISTRIK SPORT NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit speel vanjaar gasheer vir die aanbieding van die prestige 2018 Sporttoekkennings deur Eden-sportraad, en dié jaar is die gasspreker 'n oud-Springbokspeler.
Die glansaand vind op Vrydag 27 Julie te Oudtshoorn plaas en beloof om weereens ‘n uithang-geleentheid te wees met Ashwin Willemse, voormalige vleuel vir die Suid-Afrikaanse rugbyspan en bekende Supersport kommentator, wat die sportmanne en-vroue gaan toespreek, volgens Eden-sportraad (Eden SR) sekretaris Dave van der Walt.
Die Departement van Kultuursake en Sport (DKES), tesame met Eden SR, is die ander ankervennoot vir die geleentheid.
Die feit dat die Wes-Kaapse Sporttoekennings op 25 Augustus en die SA Sporttoekennings op 11 November plaasvind, noodsaak dat die Eden-sporttoekennings reeds op 27 Julie moet plaasvind, sê Van der Walt.
Nominasievorms
"Die amptelike uitnodigingsvorms is reeds op 14 Mei na alle sportfederasies, munisipale sportrade en skole uitgestuur – juis om hulle meer tyd vir nominasies te gee," sê Van der Walt.
Volgens Van der Walt is heelwat belangstelling in die verlede ook van die publiek ontvang, "maar al hierdie nominasies moet deur een van die genoemde instansies gekanaliseer word".
Hy versoek dat alle rolspelers die nominasievorms voltooi en aan hom, DKES se Dirk van der Westhuizen, en die voorsitter van die reëlingskomitee, Rudi Claassen, terug te stuur.
Die sluitingsdatum vir nominasies is reeds 22 Junie. Vanjaar word 32 kategorieë aangebied.
Wie kan deelneem
Alle Eden-sportfederasies word uitgenooi om hulle top-sportpersone, -afrigters en -administrateurs te nomineer – daar is soveel talent in die Eden-distrik. Verlede jaar is nie minder nie as 160 nominasies ontvang, sê Van der Walt.
"Alle federasies wat befondsing vanaf die DKES ontvang het, moet volgens ooreenkoms persone nomineer. Die publiek kan ook nomineer maar alle nominasies moet op die voorgeskrewe nominasievorm gedoen word en deur die relevante Eden-sportfederasie goedgekeur word," sê hy.
Sportprestasies tussen 1 September 2017 en 22 Junie vanjaar word in ag geneem. Die wenners van die kategorieë wat in ooreenstemming is met die van Wes-Kaap, word outomaties finaliste vir die Wes-Kaapse Sporttoekennings wat later vanjaar sal plaasvind.
"Daar was al die afgelope jaar soveel top-prestasies deur sportpersone uit die Eden-distrik gelewer – ons gholfspelers, fietsry, rolbal, toutrek, krieket, atletiek, seiljag, moderne vyfkamp – om maar net ‘n paar te noem. Die kategorie vir meesteratlete dien ook ‘n goeie doel," voeg hy by.
Vind meer uit
Vir enige verdere inligting, kontak Rudi Claassen by 083 500 4877 of rudolphclaassen9@gmail.com; Dave van der Walt by 082 773 4901 of sportcouncil.eden@gmail.com, of Dirk van der Westhuizen by 044 272 6165 of dirk.vanderwesthuizen@westerncape.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'