"Die doel van die kamp was tweeledig van aard," verduidelik Sensei Monré Arries van Knysna Shotokan Karateklub.
"Eerstens om die student fisies en, tweedens, ook geestelik voor te berei vir die uitdagings wat voorlê." Die kamp het afgeskop met 'n orienteringsessie waar die instukteur en die studente hul verwagtings bekend gemaak het. Daarna het 'n intensiewe oefensessie plaasgevind wat tot ongeveer 21:00 aangehou het.
Die volgende oggend om 06:00 was almal weer op en is 'n 9.5km bospad gehardloop om die atlete se uithou- en deursettingsvermoë te toets.
"Daarna is daar gefokus op tegniese aspekte van kumite en gryptegnieke wat die atlete natuurlik die meeste geniet het," verseker Sensei Arries.
In die daaropvolgende week was die resultate van die oefenkamp duidelik waarneembaar in die ywer en doelgerigtheid waarmee die studente hul karate benader het.
Op 29 September het die klub ook na Mosselbaai getoer waar hulle deelgeneem het aan die 2012 Mosselbaai Sportfees. Die klub het daar te staan gekom teen 'n gedugte karatespan, maar het hul klub se naam hoog gehou en verskeie medaljes ingepalm. Die organiseerder, Sensei Michael Coetzee, areahoof van JKA Karate in die Suid-Kaap, het die dag as 'n groot sukses bestempel met goeie mededinging van Knysna. Een van die Knysna-deelnemers, Tamsyn Booysen, het ongelukkig gedurende die kumite vir 14-jarige dogters haar knie erg beseer en sy moes noodgedwonge van die toernooi ontrek.
Karateka wat medaljes verseker het, was Shedwin Arries, Kirsten le Vack, Curtis Petersen, Rushné Fourie, Astrid Rightenberg, Athena Rigtenberg, Curtley Stander en Tamsyn Booysen.
Die klub vertrek môre, Vrydag 19 Oktober tot Sondag, 21 Oktober na Port-Elizabeth waar hulle aan die sal gaan deelneem.
Sensei Arries is vol vertroue dat die karateka in die Nasionale Shotokan karatekampioenskappe weer so goed sal vaar soos in die verlede.
"Alle voorspoed en beste wense word hulle toegewens!" sê hy.

Sensei Monré Arries (regs agter) saam met van die atlete wat die oefenkamp by Harkerville Groepjeugsentrum bygewoon het.