SUID-KAAP SPORT NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en bewaringsvereniging (SJB) het weer die afgelope Junie-vakansie die gewilde junior jagopleiding op 'n plaas in die Kalahari aangebied. Elf hoërskoolleerders, waarvan 10 seuns en een dogter, het die kursus bygewoon,
Die kursus het dit ten doel om die historiese jagkultuur aan die jeug oor te dra asook hoe om die begrip "volhoubare benutting" prakties uit te leef.
Sommige van die leerders het ook SJB se veldskool wat elke jaar vir laerskoolleerders aangebied word, bygewoon. Al die leerders moes eers Module 1 van die junior jagopleidingskursus voltooi voordat hulle kon kwalifiseer vir Module 2.
Hierdie laaste gedeelte van die kursus het die geleentheid aan elke student gebied om onder mentorskap sy voorsitplek te kon kies en voor te berei, eie springbok te skiet, reg te ontwei en verder die vleis te bewerk. Kursusmateriaal sluit in die aanvanklike beplanning van die jagtog tot by die verwerking van die vleis. Alles word prakties en in die veld aangebied, terwyl kampvuurstories en leierskapsontwikkeling om 'n gesellige kameeldoringvuur, deel van die opleiding uitmaak.
Daar is vir agt dae in die veld gekamp en alle voedsel is in die veldkombuis gaar gemaak en brode is in die sandoonde gebak. Elke student was ook aktief betrokke by die kosmaak en opruiming.
Die veilige en oordeelkundige hantering van 'n vuurwapen vorm 'n integrale deel van die opleiding. Elke student se skietvernuf moes eers op standaard wees voordat hulle toegelaat is in die jagveld.
Met suksesvolle voltooiing van die kursus, verwerf die student 'n sertifikaat uitgereik deur die Jagterskonfederasie van Suid Afrika (Chasa), waarna hy of sy kan registreer as Toegewyde Jagter.
Afstandskatting in die veld kan krities wees. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'