PLETTENBERGBAAINUUS - Die Jaguars-rugbyklub se A-span het die afgelope Saterdag 'n oortuigende oorwinning in Oudtshoorn behaal om hul onoorwonne begin van die seisoen voort te sit.
Die besoekers het vroeg beheer van die wedstryd geneem en teen halftyd 'n 15-5 voorsprong opgebou. Hoewel die tuisspan in die tweede helfte met 'n verwoede aanslag teruggeveg het, het Jaguars se verdediging standvastig gebly om uiteindelik met 22-15 as wenners uit die stryd te tree.
Voorspelersafrigter Ettiene Luiters het ná die wedstryd sy tevredenheid met die span se vertoning uitgespreek en die jong spelers vir hul bydrae geloof.
"Die jong spelers het wat nodig is om bo uit te kom. Wat hulle nog moet aanleer, is die vermoë om in hulself te glo. Hulle het uitstekend gevaar en ons is dankbaar dat hulle die geleenthede wat hulle kry, aangryp. Ons sien uit na die res van die seisoen," het Luiters gesê.
Uitstaande spel is gelewer deur flank Mabhelandile "Bells" Ngcelwane en senter Justin Harker, wat albei 'n groot rol in die oorwinning gespeel het.
Die Jaguars het vier drieë gedruk, met Ngcelwane, losskakel Roshe "Punte" Harris, flank Juvandre Kriga en heelagter Masikhane Sithole wat elk oor die doellyn is. Harris het ook een van die doelskoppe suksesvol deur die pale gesit.
Met drie oorwinnings uit drie wedstryde het die span 'n belowende begin tot hul veldtog gemaak.
"Ons besef dit is nog vroeg in die seisoen, maar ons waardeer die posisie waarin ons tans is. Hierdie week het ons die Paasfeesttoernooi, gevolg deur 'n welkome rusnaweek. Vir nou vat ons dit wedstryd vir wedstryd," het Luiters gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’