RIVERSDAL NUUS - Na die afwesigheid van twee jaar het die jaarlikse Interskole kragmeting tussen die twee landbouskole, Oakdale en Boland, die afgelope naweek by Boland Landbouskool plaasgevind.
Groot getalle toeskouers het in die goeie gees en atmosfeer gedeel wat op Boland geheers het.
Die skoolgees en trots van leerders van beide skole was duidelik sigbaar tydens hul optrede op die paviljoen en die intensiteit van hul spel.
Die kragmeting het reeds Vrydagoggend op die Wellington-gholfbaan afgeskop tydens die 18-putjie gholfstryd. Oakdale het vanjaar geseëvier met die volgende uitslae: Gholf A-span wen 4-2, die B- span verloor 2-5 teenoor 3-5 en die C-span behaal ‘n oorwinning van 4-5 -1-5.
Op die fietsbaan het die bulle hulle net so goed van hul taak gekwyt en wen hulle met ‘n telling van 48-18.
Die Bulle se junior rugbyspanne het die grondslag vir die dag se sukses gelê met goeie oorwinnings. Uit die 17 wedstryde wat Saterdag gespeel is, het Oakdale totaal van 8 gewen.
Dit was egter die o.19A-span se wedstryd wat bepalend sou wees vir Oakdalers om hul tradisionele “bulring” te kon maak. Afgesien van duisende toeskouers op die paviljoen en om die veld, kon die hele Suid-Afrika dit ook op televisie dophou. Die oortuigende wen van 26 punte teenoor Boland se 17 het die dag op ‘n hoogtepunt afgesluit.
Die onderkaptein Kobus Janse van Rensburg in aksie.
Die blou see van Oakdale-baadjies het binne enkele sekondes die A-veld oortrek en die kreet is op uitbundige tradisionele Oakdale-styl deur die leerders, ouers en oudskoliere gedoen. Trane van blydskap was aan die orde van die dag.
Hoër Landbouskool Oakdale bedank die gemeenskap van Riversdal en omgewing vir lojale ondersteuning tydens die Interskole.
Die fietsryspan is van links Lian Otto, Daniël Bruwer, Zander Groenewald, Wehan Swart, Jaco de Wet en Ruben Erasmus.
Uitslae
- 14A verloor 10-16
- 14B wen 19-3
- 14C gelyk 12-12
- 14D Wen 15-14
- 15A verloor 0-14
- 15B wen 7-0
- 15C wen 7-0
- 15D verloor 7-8
- 16A verloor 10-15
- 16B wen 21-8
- 16C wen 21-3
- 19F verloor 7-10
- 19E wen 3-0
- 19D verloor 5-17
- 19C verloor 25-7
- 19B verloor 10-15
- 19A wen 26-17
Op die paviljoen het Ethan Grobbelaar, Stephen de Swardt, Jan Heyns, Jan Fick en Matthys Lourens gesorg dat die spanne luiddrugtig aangemoedig word.
Oakdale puntemakers
Drieë: Keagan Coerecius (15), André Goedhals (4) en Marcel Strydom (9). Kobus Janse van Rensburg (12) met 3 strafskoppe en 1 doelskop.
Getroue Oakdale ondersteuners: Mnr. AB Kees en die Oakdale-span het al die pad na Boland gereis om die Bulle te ondersteun.
Oakdale-heelagter Keagan Coerecius druk ‘n pragdrie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'