TUINROETE NUUS - Die Edenstreek se toutrek-spanne het Saterdag 4 Julie hul staal by die Wes-Kaap Toutrekkampioenskappe gewys en met 'n indrukwekkende medalje-oes huis toe gekeer.
Die kampioenskap is vanjaar met groot sukses deur die Overberg-streek aangebied, waar altesaam 78 spanne uit die Overberg-, WP Wynland- en Edenstreke meegeding het.
Volgens Kittie Terblanche van Eden-toutrek was sterk mededinging, uitstekende sportmangees en hoë gehalte toutrek aan die orde van die dag.
Eden het verskeie podiumplekke behaal, waaronder die 540 kg-damespan uitgestaan het met 'n goue medalje wat hulle die Wes-Kaapkampioene in hul afdeling gemaak het.
Die streek se ander uitslae was:
- 680 kg-mans - silwer
- 600 kg-mans - brons
- 640 kg-mans - brons
- 580 kg-gemengde span - silwer
- 500 kg-damespan - silwer
Organiseerders het hul gelukwense aan al die deelnemende spanne, afrigters, beamptes en die Overberg-streek oorgedra vir 'n suksesvolle kampioenskap.
Die Edenspanne berei hulle nou voor vir die Suid-Afrikaanse Toutrekkampioenskappe wat op 17 en 18 Julie in Helderberg, Strand, aangebied word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’