SUID-KAAP NUUS - Christo Vermaak, 'n joernalis van George Herald se susterspublikasie, Oudtshoorn Courant, is die Eden-sportraad se sportjoernalis van die jaar. Die glansfunksie waartydens die Eden-sportraad verskeie sportmense en rolspelers vereer het, het Donderdagaand 27 Julie in die Riversdal-burgersentrum plaasgevind.
Vermaak is met die toekenning ook 'n finalis vir die Wes-Kaapse sportraadtoekennings wat op Saterdag 16 September in Kaapstad gehou word. Hy het in April 2003 by Group Editors aangesluit en sportberiggewing vir al Group Editors se koerante gedoen. Vermaak se berigte oor sport in Eden word deur verskeie koerante nasionaal gebruik en hy glo Eden-distrik word vinnig die sportmekka van Suid-Afrika. "Die gebied toon geweldige groei in nasionale sportgebeure en internasionale atlete word ook hierheen gelok."
Hy dek 'n wye verskeidenheid sport en gee ook mediadekking aan Eden-sportsterre wat internasionaal deelneem, of as administrateurs en afrigters optree. Hierdie atlete sluit die meesteratleet Toy Ungerer en fietsryers soos Corné Bence, Louis Visser (JNR) en verskeie ander in.
So is van sy berigte al deur SuperSport gebruik, asook deur Kwêla op kanaal 144. Vermaak skroom nie om sy beriggewing, foto's en inligting met ander media-instansies te deel nie. "Vir my is dit deel van die bemarkingsproses van atlete en sport in Eden. Hulle is ons trots en hulle harde werk voed ons ekonomie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa news'