VELDSKIETNUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) het die afgelope naweek weer 'n opleidingskursus vir jong opkomende jagters aangebied,
Die SJB se grootste doelwit is om ons jeug te ontwikkel. Daarom is junior opleiding een van die hoof prioriteite op die jaarprogram.
Die vereniging word beskou as leiers op hierdie gebied deur verskeie natuur- en jagverwante kursusse oor die jare te ontwikkel wat aan kinders blootstelling gee in die natuur.
Hier word ge fokus op gesonde maniere van ontspanning, waarvan buitelug aktiwiteite natuurlik voorkeur geniet. Hierdie kursusse word deur Chasa (Jagterskonfederasie van Suid-Afrika) goedgekeur.
Die studente word reeds as laerskoolleerders blootgestel aan die veldskoolkursus. Dit word oor ‘n periode van dae dae aangebied. Daar is ook die skietkliniek wat oor ‘n periode van een dag onder bekwame en entoesiastiese opleidingsbeamptes aangebied word.
Hierdie laaste opleidingskursus op skoolvlak word in twee modules aangebied. Die eerste van twee modules is pas afgehandel en is by SJB se opleidingsfasiliteite en skietbaan by Klein-Brakrivier aangebied.
Die vrolike opleidingspan en die studente.
Elke student kry die geleentheid om onder ervare mentorskap die vaardighede van verskeie tegnieke aan te pak waar veilige en oordeelkundige hantering van ‘n vuurwapen die kern aspek vorm.
Die eerste fase fokus grootliks op veiligheid en hantering van vuurwapens in verskeie dissiplines. Elke student moet kwalifiseer sodat sy/haar skietvernuf op standaard is voordat hulle toegelaat word vir die volgende module. Module 2 gee hulle die geleentheid om die jagveld te besoek waar hulle dan hul eie springbok kan skiet en verwerk.
Met suksesvolle voltooiing van die kursus (module 1 en 2) word die Chasa-sertifikaat verwerf waarna geregistreer kan word as ‘n toegewyde jagter.
Konsentrasie tydens die skietopleiding.
Dankie
SJB spreek hul opregte dank uit aan elke instansie en privaat donateur wat op ‘n gereelde basis bydraes maak om die jeug beter toe te rus vir toekomstige leiersposisies.
Baie dankie aan: Ons dank aan Fermi Meyer (George) leier van die groep, Wilhelm Zietsman (Riversdal), Marnus Ferreira (Mosselbaai), Len Nel (Mosselbaai), Christo Engelbrecht (Mosselbaai), Bennie Botha (George) en Ferdi Boll (George) wat opgetree het as mentors tydens die afgelope naweek se kursus. Die belangrikste bydrae was natuurlik om alle monde te voed.
"Hiermee ons op regte dank aan Johryn Meyer en Ouma Maryna wat die lekkerste etes en bederfies voorberei het," sê 'n SJB-woordvoerder.
SJB se gewilde ghonguitdaging (spanskiet) vind op 19 November by De Rust plaas. Vir meer inligting hieroor kontak 044 695 2319 of besoek die webtuiste info@suidkaapjagters.co.za.
Studente tydens 'n buitelug opleidingsessie.
Studente het ook klas geloop.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'