SUID-KAAP NUUS - Die jaarlikse Bestmed Eden-straatmylreeks beloof om vanjaar nog meer atlete te lok. So het Bestmed, een van Suid-Afrika se leidende mediese hulpskemas, ook hulle borgskap vir die 2017-vakansiereeks vergroot.
Daarbenewens word die fietsrykomponent verder uitgebrei na die NMU-wedloop op die George Kampus. Dit word weer onder die beskerming van die Klein Karoo-atletiekfonds (KKAF) en in vennootskap met Atletiek SWD (ASWD), Eden-fietsry, NMU en die ATKV aangebied.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van die KKAF, sê: "Hierdie vennootskap ondersteun die visie van 'n gesonde leefstyl en as sulks is hierdie borgskap net tot voordeel van sport en gesondheid in die Eden-distrik."
Van der Walt verduidelik: "Na 'n beskeie begin as deel van die Oudtshoorn atletiek-vakansiebyeenkoms (ou Geelbladsye), het die straatmyl-idee gegroei tot 'n straatmylreeks, wat gedurende die Desembervakansie in drie wedlope in drie Suid-Kaapse dorpe aangebied word.
"Die afgelope twee jaar het die fietsrykomponent bygekom en 'n nuwe kleur aan die straatmylreeks gegee."
Hy sê vanjaar word daar nog spesiale gemeenskapsprojekte op sekere strande deur Bestmed aangebied, om die algemene vakansiepubliek ook te betrek.
Vir eerste keer word medaljes ook toegeken. 'n Prysgeldbeurs van R80 000 gaan die top 1 500/mylatlete beslis na die Eden-distrik laat stroom.
Anuscha Nice, een van die top vroue-atlete, het haar alreeds verbind om vanjaar deel te neem. Sy is tans goed op dreef en het haar persoonlike beste tyd met 9 sekondes verbeter tot ‘n skitterende 4:18 vir die 1 500m.
Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmyl-identiteit behou maar tog deel vorm van die Bestmed Eden-straatmylreeks deurdat die Grand Prix-wenner oor al drie byeenkomste bepaal word.
Die eerste been van die reeks staan bekend as die Bestmed Klein Karoo-straatmyl. Dit vind plaas in Baron van Reedestraat op Saterdag, 16 Desember.
Die tweede been vind op die NMU George Kampus (Saasveld) op Maandag, 18 Desember plaas. Hierdie been van die reeks staan bekend as die Bestmed Nelson Mandela Univeriteit-straatmyl bekend.
Die derde been vind op 20 Desember by die ATKV-terrein in Hartenbos plaas as en staan nou bekend as die Bestmed ATKV-straatmyl.
Vanjaar borg die Vrystaatse Universiteit (Kovsies) weer die Grand Prix deel van die reeks. Die mans- en vroue-atleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, kan met die groot prys wegstap. "Soos in die verlede, poog die organiseerders om die top myl- en 1 500m-atlete in Suid-Afrika hierheen te lok."
'n Spesiale poging word aangewend om alle universiteitsklubs ook te nooi. In die afgelope drie jaar is nie minder as vyf droommyle in die reeks deur Johan Cronje (3:52.60), Dumisane Hlaselo (3:55,71)], Elroy Gelant (3:56,74), Nyongo Amos (3:55,60 en 3:52,99), gehardloop.
Die fietsry word as 'n kermesse aangebied. "Die mylsnelren op Oudtshoorn gaan beslis van die land se top fietryers lok en daar word onderhandel om die Bestmed om 'n span hier te kry."
Die reeks word in die volgende kategorieë aangebied:
Sub-juniors, juniors, 40+ en elite/ope. Daar is ook vanjaar addisionele pryse vir die eerste Eeden/SWD-atlete oor die wenstreep.
Die Oudtshoorn fietsrymylren, asook die NMU-kermesse se kategorië is o/9, o/11, o/13, o/15, o/17, elite, o/23, veterane (34 en jonger), veterane (35- 49) en veterane (50+).
Die inskrywings word aanlyn gedoen en sal binnekort oop wees. Besoek die webtuiste www.edenmiles.co.za. Alle reëlings rondom die byeenkomste en akkommodasie kan ook op dié webtuiste gevind word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'