PLETTENBERGBAAI NUUS - Die Jaguars-rugbyklub se A-span het verlede Saterdag hul onoorwonne tuisveldsegetog voortgesit met 'n spannende 34 - 31-oorwinning oor die Albertinia Rangers in die SWD Eerste Liga se halfeindstryd.
Hierdie sege het vir die manne in rooi 'n plek in die eindstryd verseker, wat Saterdag by Outeniquapark in George plaasvind.
Eerste helfte
Albertinia het sterk weggespring en 'n verdoelde drie aangeteken om die eerste punte van die wedstryd aan te teken. Telling 7 - 0.
Maar dit het nie lank geneem vir die tuisspan om hul ritme te vind nie.
Onder leiding van die ervare kaptein en stut, Etienne Luiters, het die Jaguars se voorspelers geleidelik die oorhand by die skrums en afbreekpunte gekry.
Dit het die platform geskep vir die jong SWD- o. 21-skrumskakel Roshe Harris, wat sy span se eerste drie gaan druk het. Losskakel Abrian Willemse het oorgeklits om die telling gelykop te maak.
Daarna het die Jaguars momentum opgebou en met oppertunistiese spel kon hulle nog twee drieë gaan druk. Albertinia kon daarin slaag om met 'n strafskop te antwoord, en die rustydtelling was 19 - 10 in die tuisspan se guns.
Tweede helfte
In die tweede helfte het Albertinia sterk teruggekom en groot druk op die Jaguars geplaas, maar die Jaguars het hul aanslag afgeweer en minute daarna 'n teenaanval geloods, waarna vleuel Lucian Meyer in die hoek oorgeseil het vir sy drie ná gesinchroniseerde samespel deur senters Evander Camphor en Gared Louw.
Albertinia het weereens geantwoord met 'n verdoelde drie om die tellingverskil tot 24 - 17 te verklein.
Willemse het egter 'n strafskop oorgeklits om die voorsprong weer tot 27 - 17 te rek. Maar die besoekers het bly veg en nog 'n drie gedruk om dit 27 - 24 te maak, en daarmee was dit enige span se wedstryd in die laaste kwart.
'n Wipplankaffêre was die gevolg in die laaste 15 minute soos beide spanne gespartel het om die oorhand te kry, met 'n plek in die eindstryd op die spel.
Die Jaguars het egter koelkop gebly en hul stut, Burton Kamm, het deur die verdediging gebars vir 'n belangrike drie. Willemse het weer die ekstra twee punte bygevoeg. Telling 34 - 24.
Albertinia het weliswaar in die laaste minute van die spel 'n verdoelde troosdrie gaan druk om die telling op 34 - 31 te staan te bring, maar teen daardie tyd was die koeël alreeds deur die kerk.
Vir die Jaguars het Harris (skrumskakel) twee drieë gedruk, en Kamm (stut), Meyer (vleuel) en Asiphe Fihle (vleuel) het elkeen een keer agter die pale gaan kuier.
Willemse (losskakel) was suksesvol met drie doelskoppe en een strafskop.
Die Jaguars se afrigtingskorps het hul ondersteuners bedank wat gedurende die jaar wedstryd ná wedstryd op die veld was om hulle aan te moedig.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’