OUDTSHOORN NUUS - Alles is in rep en roer in Oudtshoorn waar die dorp sy volstruisvere regskud vir die 49ste SA Tweekampkampioenskappe wat Saterdag 21 Maart plaasvind.
Nie minder nie as 862 van Suid-Afrika se beste tweekampatlete uit 14 provinsiale spanne sal hier om medaljes en trofeë meeding - 'n geleentheid wat na verwagting tussen 3 000 en 4 000 toeskouers na die dorp sal lok.
Dit is die vierde keer dat Oudtshoorn as gasheer vir die nasionale kampioenskappe optree. Die 2020-byeenkoms moes weens Covid-19 afgestel word, maar die dorp het hom intussen gevestig as 'n voorkeurbestemming vir dié sport. Tydens verlede jaar se kampioenskappe is vyf Suid-Afrikaanse rekords verbeter, wat die hoë standaard van die fasiliteite en kompetisie onderstreep.
Program
Die kampioenskappe vind plaas by die De Jager-sportkompleks se atletiekbaan en die NA Smit-swembad, wat onlangs met 'n splinternuwe dak oor die pawiljoen opgeknap is. Saterdag se program word afgesluit met 'n gesellige gala-onthaal by die Highgate-volstruisplaas, 'n tradisionele tweekampbyeenkoms waar spanne ná die strawwe kompetisie saam kan kuier.
Volgens die organiseerders kan die byeenkoms 'n ekonomiese inspuiting van sowat R10 miljoen vir die dorp beteken.
Die verrigtinge begin reeds Vrydagmiddag 20 Maart met die amptelike opening om 16:00 by die De Jager-sportkompleks. Vooraf vind die spanbestuurdersvergadering plaas, gevolg deur spanfoto's en die tradisionele verbymars van al 14 provinsiale spanne.
Saterdag se aksie skop vroeg af wanneer die eerste baanitems reeds 07:00 begin. Die swemitems volg om 10:00, met 'n tweede swemsessie om 13:30. Die dag se verrigtinge word afgesluit met die gala-onthaal en prysuitdeling om 19:00, waar meer as 1 000 gaste verwag word.
Om die kampioenskappe glad te laat verloop, is sowat 140 beamptes van regoor Suid-Afrika op diens.
Verskeie hoogwaardigheidsbekleërs sal die opening bywoon, onder andere die waarnemende burgemeester van Oudtshoorn, raadslid Zoë Tyatya, Desmond Speelman (voorsitter van die Eden Sportraad), Jean Neethling (distrikbestuurder van die departement van kultuursake en sport) en Gerhard Louwrens (president van SA Tweekamp).
Onder die prominente atlete wat in aksie gaan wees, tel name soos Johan Windt, Pierre Spies, Marsel Roos, Cornel Kruger, Keyla Douglas, Inaya Mouchilli, Mia Schellink, Eli Kannemeyer en Zoe Morgado.
Toekennings
Benewens die individuele items word die land se beste laer- en hoër-tweekampskole ook tydens die kampioenskappe aangewys - 'n besonder gesogte prestasie.
By verlede jaar se skolekompetisie het Eden goed gevaar. Laerskool Outeniqua het tweede geëindig uit 98 deelnemende laerskole, met Paarl Gimnasium as wenner en Laerskool George-Suid derde. In die hoërskoolafdeling, waaraan 87 skole deelgeneem het, het Hoërskool Punt 'n bronsmedalje verower, terwyl Hoërskool Durbanville die titel ingepalm het.
Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor die talle borge wat die byeenkoms moontlik maak, waaronder die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, 3CUBE Management, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Highgate-volstruisplaas en Wimpy (De Beer-groep).
Die goeie nuus vir tweekampliefhebbers is dat die 50ste SA Tweekampkampioenskappe in 2027 weer aan Eden Tweekamp en Oudtshoorn toegeken is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’