GEORGE NUUS - Die jaarlikse George Outeniqua Marathon, wat die afgelope Saterdag, 25 April, aangebied is, het vanjaar 'n rekordopkoms van meer as 1 800 atlete oor al die afdelings gelok, met 'n feestelike atmosfeer wat regdeur die dag geheers het.
Dié gewilde geleentheid is deur die Outeniqua Harriers-atletiekklub in samewerking met Halfway Toyota George en die George-munisipaliteit aangebied.
Die 42,2 km-marathon het by Cornerstone in Blanco weggespring en 225 atlete het dié klassieke afstand aangedurf.
Die res van die veld het die halfmarathon van 21,1 km (694 atlete), die 10 km (419 atlete) en die 5 km-pretloop voltooi, terwyl die korter afstande by NMU Saasveld begin en geëindig het.
In die lang afstand het Lloyd Bosman (Nedbank AC) sy teenstanders in 'n taai wedloop in 02.36.03 geklop. Hy is gevolg deur Lindani Ngwenya (Plett MC) in 02:36:45, met Tholinhlanhla Shabalala (Knysna MC) derde in 02:38:22.
In die vrouewedloop het Carla Spanenberg (Nedbank AC) 'n gemaklike oorwinning behaal in 03:09:09.
Alison Nel (32GI SWD) was haar naaste teenstander, maar het sowat 17 minute later klaargemaak.
Hoewel die dag warm toestande gebied het, het atlete hulle goed van hul taak gekwyt en is die water- en verversingspunte goed benut om die hitte te trotseer.
Die eindpunt by die Nelson Mandela Universiteit se rugbyveld was in 'n feestelike atmosfeer gehul, waar atlete ná hul wedlope kon ontspan en saam kuier.
Weens die sluiting van 'n gedeelte van die Sewe Passe-pad ná vloedskade in vorige jare, is al die wedlope vanjaar by die universiteit voltooi, wat logistiek goed deur die organiseerders bestuur is.
Die organiseerders het die atlete en ondersteuners bedank vir hul deelname aan wat as een van die hoogtepunte op die plaaslike atletiekkalender beskou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’