WITSAND NUUS - Verskeie atlete van Knysna het verlede Saterdag aan die Vlakte-marathon deelgeneem wat om 05:00 vanuit Heidelberg weggespring het.
In perfekte weer het meer as 1 500 atlete vir die vier wedlope aangetree - 'n nuwe rekordgetal vir die 22ste Vlakte-marathon.
Nedbank-klub het skoonskip gemaak in beide die marathon asook die halfmarathon.
Selwyn Matthews het die 42.2 km-roete in 2 uur 30 minute 50,1 sekondes kafgedraf met sy spanmaat Willard Jussah tweede in 2:32:18 en Bernardo Fredericks, ook van Nedbank, derde in 2:34:52,2 sek.
In die halfmarathon het Nedbank ook die eerste drie podiumplekke ingeneem. Francois Maquassa was eerste oor die eindstreep in 1:07:45,7 met Bruce Maboza tweede in 1:08:13,9 en Keano Qwili derde in 1:14,05.
Melissa van Rensburg (Nedbank) het in die halfmarathon die vrouewedloop totaal oorheers en net kort agter die voorlopermans geëindig.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’