KNYSNA NUUS - Concordia Primêr se jaarlikse karnaval het op Vrydag 12 Junie weer bewys waarom dit een van die skool se gewildste gemeenskapsgeleenthede is.
Letterlik honderde ouers, oumas, oupas en inwoners, veral uit Concordia, het die dag ondersteun en gesorg vir 'n lewendige en feestelike atmosfeer op die skoolterrein.
Die karnavalgees was aansteeklik. Oral het opgewonde besoekers saamgedrom om die gesellige atmosfeer te geniet, terwyl die leerders behoorlik uit hul nate was van opgewondenheid.
Die jaarlikse karnaval is 'n belangrike fondsinsamelingsprojek vir die skool.
Besoekers is bederf met 'n groot verskeidenheid eet- en drinkgoed. Tafels het behoorlik gekreun onder die gebak, lekkernye en ander smullekker aanbiedinge, wat dit moeilik gemaak het om te besluit wat om eerste te koop.
Soos gewoonlik was die pannekoekstalletjie een van die gewildste trekpleisters, terwyl die varsgebakte aartappelskyfies ook gretig ondersteun is.
Vir die meer energieke kinders en tieners was daar springkastele en 'n verskeidenheid ander aktiwiteite om hulle besig te hou.
Een van die hoogtepunte van die dag was die bekendstelling van die skool se nuwe gelukbringer, Corrie, wat met groot entoesiasme deur leerders en besoekers verwelkom is.
Een van die onderwysers, O'Neal Mankoo, wat ook die skool se sportorganiseerder is, het gesê die karnaval gaan oor veel meer as net fondsinsameling. "Dit bied aan die gemeenskap die geleentheid om saam te kuier, die skool te ondersteun en die sterk gemeenskapsgees waarvoor Concordia bekend is te vier."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’