KNYSNA NUUS - Concordia Primêr het onlangs by die Eden X Hackathon in George gewys waartoe sy leerders in staat is, met 'n eerste plek vir Corrie Bits (gr. 7-span) in die innovasie-uitdaging.
Die Eden X Hackathon bied aan leerders van verskeie skole die geleentheid om hul vaardighede in kodering, robotika, kreatiwiteit, probleemoplossing en innovasie te ontwikkel. Die dag het verskeie uitdagings ingesluit, waaronder kodering en robotika, ontkoppelde kodering en die nuwe Vuurprojek, wat vanjaar vir die eerste keer deel van die Eden X-program was.
Concordia Primêr het met leerders uit verskillende grade aan drie van die afdelings deelgeneem.
Gr. 6-leerders pak wateruitdagings aan
Twee groepe gr. 6-leerders het aan die Vuurprojek in die Skeppende Kunste-afdeling deelgeneem. Die doel van die projek was om leerders aan te moedig om probleme rondom water in hul gemeenskap te identifiseer en kreatiewe, volhoubare oplossings daarvoor te ontwikkel, onder meer deur die gebruik van volhoubare energie.
Die leerders moes hul projekte ontwikkel en daarna 'n voorlegging doen waarin hulle hul idees en oplossings verduidelik het.
Die twee spanne het bestaan uit Tysha Koopman en Hayley Haarhoff (span 1), en Yanicka Jacobs en Hope Trotter (span 2). Hulle het waardevolle ervaring opgedoen in navorsing, probleemoplossing, aanbieding en kreatiewe denke.
Jong leerders ontwikkel logiese denke
Die gr. 2- en 3-leerders het aan die ontkoppelde kodering-afdeling deelgeneem. Hierdie afdeling het gewys dat kodering nie noodwendig 'n rekenaar vereis nie en dat die beginsels daarvan reeds op 'n jong ouderdom deur praktiese en kreatiewe aktiwiteite ontwikkel kan word.
Die leerders moes onder meer 'n dansie met behulp van gekleurde blokkies ontwerp, 'n dobbelsteen bou, in groepe saamwerk en hul werk stapsgewys aan ander verduidelik. Hulle het ook uitdagings voltooi wat hul logiese denke en probleemoplossingsvaardighede getoets het.
Izaiah Wagner, Caithlyn April, Nicole Arnolds en Calvin Matthys het Concordia Primêr in hierdie afdeling verteenwoordig.
Corrie Bits verower eerste plek
Die grootste prestasie van die dag het in die gr. 7- innovasie-uitdaging gekom, waar Concordia Primêr se Corrie Bits 'n individuele eerste plek behaal het.
Die spanlede, Bits, CJ Ludick, EJay Kapp en Caytlynn Stuurman, moes 'n slim valhek ontwerp deur gebruik te maak van, onder andere, 'n elektroniese boustel en kodering. Die leerders het die uitdaging in twee sessies aangepak en daarin geslaag om hul projek suksesvol te voltooi.
Wat hierdie prestasie besonder indrukwekkend maak, is dat dit die leerders se eerste ervaring met kodering was. Teen die kompetisie van sowat 20 skole in dié kategorie het Bits die eerste plek behaal.
Hierdie prestasie is 'n bewys van die potensiaal van leerders wanneer hulle die geleentheid kry om hul kreatiwiteit, probleemoplossingsvermoë en tegnologiese vaardighede te ontwikkel.
Meer as net 'n kompetisie
Volgens Concordia Primêr het die Eden X Hackathon meer as net 'n kompetisie gebied. Die leerders het deur die loop van die dag toegang gehad tot verskeie uitstallings en is aan nuwe tegnologieë, idees en moontlikhede blootgestel.
Die geleentheid het leerders aangemoedig om krities en kreatief te dink, saam te werk, probleme op nuwe maniere te benader en hul idees met selfvertroue te kommunikeer.
Vir 'n skool soos Concordia Primêr bied sulke geleenthede waardevolle blootstelling en skep dit geleenthede vir leerders om hul belangstelling in tegnologie, kodering en innovasie verder te ontwikkel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’