OPINIE - Die afgelope week het Gayton McKenzie, leier van die Patriotiese Alliansie (PA) en minister van kultuursake en sport, die Suid-Afrikaanse politieke landskap laat regop sit met sy dreigement om die PA uit die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) en ander koalisies te onttrek.
Die rede? Sy eis dat Kenny Kunene, sy jarelange vriend en stigterslid van die PA, binne sewe dae heraangestel word as lid van die Johannesburgse Burgemeesterskomitee (MMC) vir Vervoer.
Die ultimatum, wat verlede week op verskeie sosialemediaplatforms en artikels uitgespreek is, het politieke tonge laat klap en vrae laat ontstaan: Is dit 'n kwessie van beginsel, of 'n slinkse magspel?
Forensiese ondersoek
Die saak het in Julie begin toe Kunene teenwoordig was by die huis van Katiso Molefe (KT), 'n beskuldigde in die 2022-moord van DJ Sumbody.
McKenzie het toe opgetree teen Kunene en hom geskors as raadslid en MMC omdat hy die party se beeld skade berokken het; 'n stap waarmee baie poltieke ontleders verras was.
Dit was 'n ongewone stap in Suid-Afrikaanse politiek omdat partye selde lede skors sonder dat hul skuld bewys is, 'n skuif wat die ANC se step aside-reël, soos toegepas op Ace Magashule in 2021, in die skadu stel.
Intussen het 'n forensiese ondersoek deur die prokureursfirma, Cliffe Dekker Hofmeyr (wat die PA self aangestel het), vir Kunene verlede week 'skoon' bevind, en is hy as raadslid in Johannesburg heraangestel. Maar sy MMC-pos bly vakant.
Johannesburg se burgemeester, Sello Morero (Dada), het toe geen duidelike verbintenis gegee om Kunene weer aan te stel nie, wat McKenzie op die oorlogspad gestuur het.
Verdere gerugte dat die pos glo aan die EFF se Julius Malema belowe is het die spanning verhoog.
Terwyl Kunene geskors was, wou Morero glo ook nie die MMC-pos aan die PA se jong Liam Jacobs gee nie, maar het hy self waargeneem - twee portefeuljes op een slag, waaroor die PA ook gal braak.
Beginsel of slim politieke skuif?
McKenzie se sewe dae ultimatum; herstel Kunene of die PA verlaat alle koalisies, insluitend die RNE, is 'n hoërisikostrategie. Hy het selfs gedreig om as minister te bedank en die PA uit alle munisipale koalisies te ontrek.
Maar hoekom die drama? Is dit beginsel, of 'n slim politieke skuif?
Uit 'n neutrale oogpunt het McKenzie gronde om te kla. Kunene se onskuld is bewys, en die ANC se huiwering om hom te herstel laat die PA gedisrespekteerd voel, veral aangesien die party hierdie portefeulje in Johannesburg vooraf geonderhandel het.
Tog gaan dit verder as beginsel.
In politiek klink eis beter as vra. Deur te dreig, plaas hy die ANC in 'n hoek: Gee in, en julle lyk swak; weier, en hy neem die morele hoë grond in die oë van vriend en vyand as 'n leier wat nie posisies of geld jaag nie.
Dit is 'n kragtige narratief vir kiesers, veral in die Wes-Kaap, waar McKenzie na Kaapstad se burgemeesterskap vry.
Wie wen die skaakspel?
McKenzie se ultimatum is myns insiens 'n meesterlike mengsel van beginsel en bluf.
Sy bereidheid om Kunene te skors hangende 'n ondersoek het die PA se integriteit versterk en sy dreigement om uit die RNE te stap, versterk sy politieke inbors (indien hy sover kom om uit die RNE te onttrek).
Dit kan ook wees dat hulle dalk met tyd Kunene in elk geval in sy MMC-pos sou heraanstel, maar Mckenzie het hulle nou voorgespring met die dreigement.
Die ANC kan ook kwesbaar en as 'n onbetrou-bare RNE-vennoot voorkom as die PA wel besluit om te loop.
Net so terloops, die DA het ook al voorheen gedreig om uit die RNE te loop, maar daarvan het dadels gekom.
Die PA sal dus geskiedenis maak deur die eerste RNE-vennoot te word wat nie tandelose dreigemente maak om te onttrek nie.
Is McKenzie se eis 'n regverdige roep vir geregtigheid, of 'n slinkse skaakskuif om die ANC te hiet en gebied?
Laaste dag van die ultimatum
Op Dinsdag 30 September, die laaste dag van die ultimatum, het die PA aangekondig dat hy die betrokke aand 'n vergadering met die ANC-leierskap sou hê.
Kort ná die vergadering het Kunene en lede van die PA se uitvoerende komitee op Facebook Live bevestig dat die samesprekings baie goed verloop het.
Beide partye het voorstelle op die tafel geplaas, wat op 3 Oktober verder bespreek sal word. Alle dreigemente is intussen van die baan en van die kant af lyk dinge belowend dat Kunene sy MMC-pos sal terugkry.
Volgens Kunene sien die PA nou 'n gulde geleentheid om meer kwessies op die tafel te plaas, iets waarvoor die ANC ontvanklik was. Die dreigement het dus gewerk, en die ANC het die politieke 'bom' ontlont.
Plaaslik
Met verlede week se mislukte aansoek om Knysna onder administrasie te plaas, sou dit interessant wees om te sien hoe die PA se druk plaaslik kon uitspeel.
Die ANC (sewe setels), PBI (1) en EFF (1) regeer tans met Kim (twee setels) as die kingmaker. Die DA (8) staan alleen, en die PA (2) weerhou sy stem.
Sou die PA egter by die DA aansluit, sou hulle net een setel kort om die beheer oor te neem, moontlik deur 'n sleutelposisie as geelwortel aan te bied. Maar as is verbrande hout.
Een ding is wel seker: In Suid-Afrika se politieke teater weet McKenzie hoe om die kollig te steel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’