EIENDOMSNUUS - Geenskapskemas het nog net 'n paar maande oor om te verseker dat die skema se rekords, voldoen aan die vereistes van die Popi Wet (Protecton of Personal Information Act).
Die Popi Wet no 4 van 2013 is op 1 Julie 2020 gepromulgeer en betrokke partye het tot 30 Junie 2021 tyd om te voldoen aan die vereistes van die wet.
In terme van die nuwe wetgewing mag die trustees, die uitvoerende komitee of die bestuursagent nog steeds die persoonlike inligting van die lede insamel en op rekord hou maar hulle moet poog om te verseker dat die inligting op 'n behoorlike manier bestuur en beskerm word deur te verseker dat alle prosesse en prosedures in plek is.
Persoonlike inligting is enige inligting wat te make het met 'n lewende natuurlike persoon en waar toepaslik, 'n bestaande juristiese persoon. Die volgende persoonlike inligting van lede van 'n gemeenskapskemas word gewoonlik gestoor - ID/paspoortnommer, kontakbesonderhede, korrespondensie, finansiële inligting en enige ander inligting wat benodig word om die skema suksesvol te bestuur. Sien ook Artikel 1 van die Wet onder "Definisies" wat alles as persoonlike inligting geag word.
Mag die trustees of bestuursagent dan nou glad nie meer die inligting van eienaars bekend maak nie? Indien die inligting nie vir die behoorlike bestuur en administrasie van 'n skema is nie, mag inligting nie uitgegee word sonder om eers vooraf die skriftelike toestemming van die betrokke eienaar(s) te ky nie.
In 'n neutedop gee die Wet dus aan eienaars die reg en beheer oor wanneer en hoe hul inligting gedeel word (vereis skriftelike toestemming), asook die tipe en hoeveelheid inligting wat die eienaar verkies om te deel.
Wat is die stappe wat die trustees of uitvoerende komitee moet volg om te verseker dat die skema voldoen aan die vereistes van die Popi Wet? Die eerste stap is om 'n Inligtingsbeampte aan te stel wat moet toesien dat die regte stelsels in plek is.
Die tweede stap is om al die kontrakte wat die skema aangegaan is met 'n derde party, na te gaan, en toe te sien dat daar 'n klousule in die kontrak is waarin die partye onderneem om aan die vereistes van die Popi Wet te voldoen.
Derdens moet die trustees of uitvoerende komitee 'n raamwerk ontwerp wat aan eienaars of lede gestuur moet word oor die implementering van Popi.
Ten slotte moet ons aanvaar dat ons in 'n inligtingsera leef en dat daar saam met vooruitgang ook verantwoordelikhede kom, en daarom moet elke persoon poog om sy/haar inligting te beskerm, sy/haar reg op privaatheid te beskerm en wanaawending van inligting te voorkom.
Stuur 'n e-pos na krohnkarin@gmail.com indien u vrae rakende u skema het – insluitende deeltitels, huiseienaarsvereniging of aftreeoorde.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'