TUINROETE NUUS - Munisipaliteite in die Suid-Kaap moet nou besluit hoe hulle voel oor die voorgestelde naamsverandering van Eden-distriksmunisipaliteit na die Garden Route District Municipality.
Die item sal na verwagting op die volgende Eden-raadsvergadering, einde November, ter sprake kom.
Vyf van die sewe B-munisipaliteite het reeds hieroor gestem, terwyl Knysna en Bitou se rade nog 'n besluit moet neem. Sover het drie munisipaliteite hul steun gegee.
Die rade van Oudtshoorn en Kannaland is gekant teen die voorstel.
Die openbaredeelname proses, waartydens inwoners hul opinies oor die voorstel kon lewer, het Dinsdag 31 Oktober gesluit.
Eden-distriksmunisipaliteit het hul naam sowat 16 jaar gelede van die Garden Route/Klein Karoo District Municipality verander.
Die rede vir die voorstel na Garden Route District Municipality is om die streek effektief te bemark en toerisme te bevorder.
Die naam "Garden Route" is glo meer bekend in die oorsese mark.
Kommer is uitgespreek oor of Hessequa, Oudtshoorn en Kannaland by dié naam ingesluit word.
Die George-raad het hul steun vir die Garden Route-naam gegee. Die item is tydens 'n raadsvergadering verlede Woensdag bespreek.
Vanuit die oposisiebanke is daar egter teenstand. Volgens die ACDP-raadslid Johann du Toit, gaan dit miljoene kos. "Hulle kan liewer daai geld gebruik vir behuising," het hy gesê.
Om Eden internasionaal op die mees effektiewe manier te bemark, is die hoof-aansporing vir hierdie versoek van die kantoor van die burgemeester, Memory Booysen. Foto: Michelle Pienaar
Sac-raadslid Basil Petrus, het aan die George Herald gesê hy het nie 'n probleem met die naam "Eden" nie.
"Hulle kan die naam 'n honderd keer verander. As die kapasiteit nie daar is om toerisme te bevorder nie, is name bloot simbolies en sentiment."
Wat sê die streek se rade?
Die Mossel Bay Advertiser berig dat dié kusdorp se raad nie onomwonde hul steun vir die naamsverandering toegee nie, maar wag op 'n volledige kosteberaming en klarigheid oor die resultate van die openbaredeelnameproses wat gevolg is.
Die ACDP-raadslid in Mosselbaai, Jeanette Gouws, het berig dat die Eden-distriksmunisipaliteit 'n kosteberaming van R140 000 vir die naamsverandering deurgegee het.
Die Hessequa-raad het hul steun vir die naamsverandering reeds einde September gegee, berig die Suid-Kaap Forum. Hulle ontvang die versoek in beginsel positief en het gevra dat die breë publiek en wykskomiteelede gemotiveer word vir deelname aan 'n volledige openbaredeelnameproses.
Die Knysna-raad het volgens inligting reeds 'n voorlegging ontvang, maar die item moet nog voor die raad dien. Die item het ook nog nie voor die Bitou-raad gedien nie.
Die Oudtshoorn-speaker, Julia le Roux, het bevestig dat Oudtshoorn se raad die voorstel eenparig verwerp het.
Hulle wil hê die Eden-naam moet bly. Volgens die munisipale woordvoerder, Aurelia Oliphant, het die raad beslis dat die openbaredeelnameproses nie voldoende was nie.
"Die naam 'Garden Route' sluit die Klein-Karoo uit."
Kannaland se munisipale woordvoerder, Ian Avontuur, het bevestig dat hulle raad twee name aanvaar, naamlik die Khoisan-naam "Danaub" en "Garden Route en Klein-Karoo-distriksmunisipaliteit".
"Ons aanvaar nie die Garden Route sonder die Klein-Karoo nie," het Avontuur gesê.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'