NASIONAAL NUUS - Die foto hiernaas is ikonies - oral word dit herken as die simbool van die jeugopstand van 16 Junie 1976 toe die jeug in die Soweto-townships begin betoog het teen die apartheidstaat se besluit dat vakke net in Engels en Afrikaans aangebied moet word in township-skole.
Die foto toon hoe Mbuyisa Makhudu die sterwende Hector Petersen na veiligheid probeer dra, met Hector se suster, Antoinette, huilend langs hom. Sam Mzima, wat twee weke gelede oorlede is, het die foto geneem.
Die studenteprotes het reeds in vroeg Mei begin toeneem en op 16 Junie is 'n massavergadering vir studente in Soweto uitgeroep. Daar het die polisie duisende betogende kinders probeer verhoed om met die optog voort te gaan, met noodlottige gevolge. Petersen en Hastings Ndlovu was die eerste kinders wat daardie dag gesterf het.
Sedertdien word leerders en alle Suid-Afrikaners elke jaar gevra om stil te staan en te reflekteer op die gebeure en geskiedkundige belangrikheid van die dag.
Een van Suid-Kaap Forum se korrespondente op Heidelberg het met 'n paar jongmense gesels oor wat Jeugdag vir hulle beteken.
Gilmare Roberts (15), 'n leerder by Kairos Senior Sekondêr: "Dis vir my 'n belangrike dag. Die jeug van daardie tyd het gewys jongmense kan ook 'n verskil maak; dat jongmense ook veranderinge kan bring. Ons moet bou op daardie nalatenskap en ons moet leer hoe om ons stem ook te laat tel waar ons ons ook al mag bevind."
Wesley Davids (25), trotse jong pa: "16 Junie is ook my oudste seuntjie se verjaarsdag.
Dis die dag toe Suid-Afrika begin verander het. Hy en honderde ander jongmense het hulle lewens verloor in die struggle om 'n beter opvoeding vir ons te kry. Ek sal bly wees as dinge beter sal wees in die toekoms en dat daar meer werksgeleenthede sal wees. Al daardie dinge wat ons misgeloop het in die verlede moet ons vandag 'vasvat'. Ons moet vashou aan wat onse meester, Madiba ons geleer het: 'Education is the key to success."
Wesley Davids
Keegan van Wyk
Gilmare Roberts. Foto's: Alex Marshall, korrespondent
Keegan van Wyk (23), student in Kaapstad: "Ons as jeug is nie meer so gefokus op nasionale Jeugdag soos ons was nie. Die jeug het baie te doen met dwelms en verkeerde dinge. Daar is baie jong kinders wat nie meer geïnteresseerd is in skool nie en wat net doelloos rondloop. Ons moet onsself regruk en ons regkry om hard te werk aan 'n beter toekoms vir ons - soos die jeug van 1976 ons gewys het.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'