Update
STILBAAI NUUS - 'n 63-jarige vrou, Heila Kilian is Maandag 16 April noodlottig gewond tydens 'n plaasaanval by Gazania-kwekery ongeveer 2 km buite dié dorp.
Volgens kapt. Malcolm Pojie het vyf mans by die woning ingebreek. "Die eienaar en nog drie mense het vleis gebraai in die tuin agter die huis toe die mans, in oranje oorpakke en klapmusse op hulle toegesak het."
Hulle het glo sonder waarskuwing op die slagoffers begin skiet. Kilian is raakgeskiet en is op die toneel dood.
Sover vasgestel kon word, het sy by haar suster, Brenda Thomas, op Stilbaai gekuier om na 'n voetoperasie te herstel. Sy sou blykbaar Sondag weer na die Oos-Rand teruggekeer het.
Haar man is 'n oudbevelvoerder van die onluste-eenheid naby Springs.
"Twee mans is met toue vasgebind, maar die ander vrou het weggekom en het na die buurplaas gehardloop," het Pojie gesê. Sy het volgens inligting haar seun, die enigste nommer wat sy kon onthou, geskakel.
Die huis is geplunder en 'n versameling jagmesse, wapens en 'n groot bedrag kontant is gebuit. Die verdagtes het met die wit Hilux-bakkie met 'n kappie (canopy) van die plaaseienaar gevlug.
"Dit is 'n enkelkajuitbakkie met registrasienommer CCC 12419. Al vyf is swaar gewapen en die publiek word gemaan om hulle nie te nader nie, maar dadelik die naaste polisiestasie in kennis te stel indien hul opgemerk word," maan Pojie.
Die verdagtes was om 23:14 op kamera by 'n vulstasie op Heidelberg opgemerk en die vemoede bestaan dat hulle vanaf die Kaap afkomstig is omdat hulle in daardie rigting beweeg het.
63-jarige Heila Killian.
Slegs die polisielint voor die huis is stille getuienis van die tragedie wat hier afgespeel het. Foto's: Wilma Adamson
'n Lykskouing is Woensdag 18 April op Kilian uitgevoer, maar die uitslag was teen druktyd nie bekend nie.
Gerugte het die ronde gedoen dat die polisie twee persone reeds in hegtenis geneem het in verband met die voorval, maar die ondersoekbeampte, speursers Ludwig Schnetler het gesê dat dit nie waar is nie.
Enigiemand met inligting kan Schnetler by 079 894 1593 of 028 754 6100 skakel.
Die oprit tot by die afdraai regs na die kwekery en woning vanaf die R305 is ongeveer 500 meter.
Lees vorige artikels op ons susterskoerant, Suid-Kaap Forum:
- Plaasaanval: Gerugte van arrestasies onwaar
- Opvolg: Vrou sterf tydens plaasaanval
- Plaasaanval buite Stilbaai: 1 dood
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'