“Dit gaan beter, baie beter!”
Só het Paul Marais, ‘n inwoner van Kleinvallei Landgoed langs die R24-Tarltonpad (oorkant die Krugersdorp Wildtuin) gesê sedert hy en sowat 80 ander inwoners verlede jaar uit Kroningspark, die bekende witplakkerskamp in Krugersdorp, moes trek.
Hy was een van die inwoners wat verlede jaar kon kies of hy wil trek na Munsieville of Kleinvallei, ‘n opbouingsprojek wat onder andere deur Sunette Bridges, ‘n Afrikaanse sanger en ‘n kampvegter vir die Afrikaner, begin is.
“Die dae van slap wees is verby, as jy hier bly dan beteken dit jy wil iets van jou lewe maak – dit beteken jy wil ‘n beter mens word as die een wat jy was,” het Marais gesê.
Reëls, verduidelik hy, is steeds daar, maar dit is baie meer toegeeflik as die reëls wat hulle in Kroningspark moes volg.
“Hier is verskeie reëls ingestel sodat ons mekaar eerder kan opbou, sonder reëls sal ons verlore wees, want dit is ‘n manier om dissipline onder volwassenes en kinders te handhaaf.”
Dié reëls sluit, ondere ander, die verbod op dwelms- en alkoholverbruik en bedelary in.
“Om bedelary te verhoed is daar besluit dat ons as inwoners eerder elke Saterdag ‘n markdag hou waar ons selfgemaakte goedere aan die publiek vir ‘n inkomste verkoop,” het Marais gesê.