OUDTSHOORN NUUS - Alle besigtingstoere by die Kango-grotte word van môre (18 Maart) vir die volgende twee weke afgestel. Dit was een van die mosies wat vanoggend deur die stadsraad van Oudtshoorn aanvaar is.
Colan Sylvester, burgemeester, en Adel Supra-Vertue, van Oudtshoorn rampbestuur, het die raad vanoggend toegelig oor noodmaatreëls wat in Oudtshoorn in plek gestel word as voorsorgmaatreëls teen die Koronavirus.
‘n Tweede mosie dat alle raadsvergaderings vir die onmiddelike toekoms in komitee sal plaasvind om ‘n samedromming in die openbare galery te voorkom, is ook goedgekeur.
Raadslid Vlancio Donson (Icosa) het gevra dat die burgemeester sy mosie wysig om alle toeriste toegang tot die dorp te weier. Die wysiging is egter van die hand gewys.
Die burgemeester het ‘n beroep op organisasies, kuierplekke en kerke godoen om uitvoering te gee aan die president se voorskrif dat geen byeenkoms met meer as 100 persone gehou moet word nie. Hy het ook weer benadruk dat higiëne en die ontsmetting van hande noodsaklik is.
Volgens Supra-Vertue word ‘n taakspan vandag saamgestel om uitvoering te gee aan maatreëls wat deur die provinisale regering aan plaaslike owerhede deurgegee word.
Oudtshoorn se hoof van rampbestuur, Adel Supra-Vertue en die burgemeester, Colan Sylvester, tydens vandag se raadsvergadering. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'