NASIONALE NUUS - Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo bekendstel.
Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryf- en kreatiewe kunstekompetisie wat fokus op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders en studente ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars.
Volgens Johan Jansen van Vuuren, Projekbestuurder by die FAK, is vanjaar se tema Erfenis. “Erfenis is al omskryf as dit wat ons geërf het: die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur.
"Maar moenie vergeet van ons musiekerfenis, ons koserfenis, ons taalerfenis en selfs daardie lekker koeksisters en die ou Huisgenootjies.”
Jansen van Vuuren meen dat die bewaring en bevordering van ons erfenis vandag nog meer relevant is as vantevore.
“Die gemeenskap het gewoond geraak aan nog ’n standbeeld wat val en monumente wat nie in stand gehou word nie. Ons vergeet van ouma se Sondagmiddagetes, die goue oue ‘My Sarie Marais’ of legendariese Lucas Maree. Met dié kompetisie wil die FAK ’n platform skep vir leerders om die krag van nostalgie en herinneringe te ontdek en sodoende ons erfenis met ’n tiekiedraai te bevestig.”
Die FAK moedig alle graad 6- tot 12-leerders en studente, Afrikaanse huistaalsprekers of sprekers wat Afrikaans as nie-moedertaal het, in enige land, om hulle erfenis te deel d.m.v. ’n dagboekinskrywing, ’n resensie, ’n opstel, ’n kortverhaal, poësie, fotografie en skilderkuns.
WIE KAN DEELNEEM?
Alle graad 6- tot 12-leerders en studente in Suid-Afrika en Namibie¨ asook enige land ter we^reld waar Afrikaans as moedertaal of nie-moedertaal gebruik word of bestudeer word. Dit sluit onder meer in Wes- en Oos-Europa, Australie¨ en Nieu-Seeland, Kanada en die VSA. Ons moedig veral ook studente van Afrikaansdepartemente aan universiteite regoor die we^reld aan om deel te neem. Op hierdie wyse sprei Afrikaans sy internasionale vlerke.
HOE OM DEEL TE NEEM
Inskrywings kan op 3 maniere ingedien word:
• Klik hier om aanlyn in te skryf. Wanneer die leerder inskryf, ontvang hy/sy ’n verwysingsnommer wat bevestig dat die inskrywing ontvang is. Die dagboekinskrywing, resensie, opstel, gedig en kortverhaal moet in pdf- of jpeg-formaat aangeheg word.
• Per e-pos na ekspo@fak.org.za. Indien hierdie metode gevolg word, moet elke inskrywing vergesel wees van ’n leerderinskrywingsvorm.
• Per hand by die FAK-kantoor op die Voortrekkermonumentterrein, Pretoria. Skilderkuns en fotografie kan slegs per hand ingehandig word. Indien hierdie metode gevolg word, moet elke inskrywing vergesel wees van ’n leerderinskrywingsvorm.
SPERDATUM
Alle inskrywings moet teen 31 Julie 2018 ingehandig wees. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
INSKRYWINGSGELD
Geen inskrywingsgeld word gevra nie.
BEOORDELING EN ERKENNING
Deelnemers word volgens ouderdomsgroepe beoordeel. In elke afdeling en elke kategorie volgens die ouderdomsgroepe sal ’n wenner aangewys word. Die organiseerders behou egter die reg voor om, indien daar na hulle mening te min inskrywings in ’n kategorie is of as die standaard nie hoog genoeg is nie, nie ’n wenner in die spesifieke kategorie aan te wys nie.
Slegs nasionale beoordeling sal plaasvind. Die beoordelaars werk volgens ’n rubriek vir elke kategorie.
Indien versoek word, sal die rubrieke saam met die uitslae en sertifikate na afloop van die kompetisie na die skole toe gestuur word.
• ’n Deelnamesertifikaat word aan elke deelnemer gegee, wat by skole se prysuitdelings oorhandig kan word.
• Kategoriewenners ontvang pryse.
• Die wenskool ontvang R10 000. Die wenskool sal volgens ’n formule bepaal word. Die volgende sal bv. in ag geneem word: persentasie inskrywings, hoeveelheid wenners, deelname aan verskeidenheid kategoriee¨.
• ’n Algehele wenner wat die uitblinker was en die tema die beste beskryf het, of dit nou deur ’n foto, opstel of gedig was, word aangewys. Die wenner ontvang die wisseltrofee en R5000 kontant word vir haar/sy skool gegee.
NAVRAE
Johan Jansen van Vuuren op 083 265 5533 of 012 301 1777 of kyk verder by www.fak.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'