NASIONALE NUUS - KAROO NUUS - Sylvester, Suid-Afrika se bekendste leeumannetjie, wat twee jaar gelede in die nuus was toe hy twee keer uit die Karoo Nasionale Park by Beaufort-Wes ontsnap het, en veldwagters dae lank op sy spoor gehad het, het pa geword.
Die Kalahari-leeumannetjie is na sy omswerwinge van meer as 370 km in die Sentraal-Karoo, uiteindelik na Kazuko, ‘n privaat reservaat aangrensend aan die Addo-Olifant Nasionale Park in die Oos-Kaap, geneem.
Hier het hy gou maats gemaak met Fielies, ‘n jonger leeumannetjie, en uiteindelik ook die twee leeuwyfies Angel en Nika ontmoet.
Duidelik het die vriendskap in iets meer ontwikkel.
Gerhard de Lange, algemene bestuurder van die reservaat verlede week met groot trots, aankondig dat Sylvester en Angel twee welpies ryker is.
“Dit was ‘n totale verrassing,” sê De Lange. “‘n Voorbehoedmiddel wat in Januarie 2017 onder elke wyfie se vel ingeplant is, hou sowat ‘n jaar, maar ek het nooit eens die moontlikheid oorweeg dat hulle kan dragtig raak nie.”
Die natuur het egter haar gang gegaan, en volgens De Lange se somme moes die paring reeds in Maart vanjaar plaasgevind. Leeus is 110 dae lank dragtig, en omdat die welpies nou sowat 12 weke oud is, is hulle al in Junie gebore.
Alhoewel die tekens daar was dat Angel soog, steek leeuwyfies hul welpies ‘n ruk lank weg en niemand het hulle gesien nie, ook nie De Lange wat soggens vroeg al sy leeukinders gaan soek nie.
Lees meer op ons susterskoerant, Oudtshoorn Courant.
Angel en haar twee 12 weke oue welpies.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'