NASIONALE NUUS - Die modewêreld se effense oplewing in belangstelling in volstruisleer is 'n welkome ligpunt vir volstruisboere.
"Modehuise in Europa toon 'n opflikkering in belangstelling in volstruisleer," sê Charl du Plessis, uitvoerende bestuurder van Klein Karoo Internasionaal, wat pas teruggekeer het van 'n uitgebreide besoek aan Europa en die VSA.
"Daar is ook toenemend belangstelling in volstruisleer in China."
Dié belangstelling is welkom, veral in die lig van die uitbreking van die hoogs-patogene H5N8 vroeër vanjaar.
Die teenwoordigheid van die virus op kommersiële volstruisplase in die Heidelberg-omgewing en nog sewe in die Oudtshoorn-omgewing het daartoe gelei dat meer as 70 volstruisplase tans onder kwarantyn is.
Du Plessis en Arno Albertyn, wat onlangs aangestel is as uitvoerende direkteur van KKI se leerafdeling, het KKI se produkte van 3 tot 18 Oktober in Italië, Duitsland, Mexico, en ook in die VSA in Dallas, Boston en New York bemark.
"Ons het veral volstruisleer aktief gaan bemark. Die grootste uitdaging is om luukse goedere aan millenniërs te bemark.
"Hul verbruikerspatrone verskil drasties van konvensionele verbruik: hulle fokus daarop om hul status, gemeet aan ervarings, eerder as welvaart, op sosiale media bekend te maak."
Volgens Du Plessis stel die millenniërs belang in die herkoms, naspeurbaarheid, arbeidspraktyke, omgewingsimpak en volhoubaarheid van 'n produk – die sogenaamde sagte kwessies van die waarde ketting.
In hierdie verband het die volstruis-waardeketting 'n baie goeie profiel aangesien die realisasie 'n goeie balans tussen leer (40%), vleis (40%) en vere (20%) verteenwoordig. Omdat die meeste prosesse met die hand gedoen word, bied die bedryf intensiewe werkskeppingsgeleenthede, wat 'n beduidende ekonomiese impak in landelike gebiede teweegbring."
Volstruise in kwarantyn mag nie geslag word nie en die H5N8-uitbreking het gelei tot 'n hernude verbod op die uitvoer van vars vleis.
Slagting van volstruise op onbesmette plase gaan voort en hitte-behandelde vleis word steeds uitgevoer. Rou volstruisvleis word binnelands bemark.
"Die uitvoer van vars vleis, wat meer gewild is as gaar vleis, het in 'n groot mate die mark vir gaar vleis gekannibaliseer.
"Nou probeer ons weer die markpenetrasie vir gaar volstruisvleis op Europese winkelrakke vergroot."
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'