Video
NASIONALE NUUS EN VIDEOS - Meiringspoort is tans gesluit nadat ’n wolkbreuk swaar reën en vinnig stygende waterpeile in die gebied veroorsaak het.
Volgens inligting wat ontvang is, sit ongeveer 50 mense tans in die poort vas terwyl owerhede die situasie monitor.
Die wolkbreuk het oor die Matjiesrivier-omgewing uitgesak, waar tussen 40 mm en 80 mm reën binne ’n kort tydperk op sommige plase gemeet is. Die intense reënval het tot oorstromings en gevaarlike toestande gelei, wat die sluiting van bergpasse genoodsaak het.
Swartbergpas is ook gesluit is as gevolg van uiters gladde padtoestande.
Motoriste word versoek om alternatiewe roetes te gebruik. Die aanbevole roete na Oudtshoorn is via Willowmore (N9) en De Rust (R342).
Die Tradouwspas bly tans oop en toeganklik vir verkeer.
Volgens 'n verklaring van Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertius Simmers, sal skoonmaakwerk hervat word sodra die watervlakke daal.
Die paaie sal na verwagting tot 28 Maart gesluit bly.
"Volg asseblief die padsluitingskennisgewings. Moenie oorstroomde paaie oorsteek nie."
In geval van noodgevalle kan die Garden Route Noodoproepsentrum gekontak word by 044 805 5071 of via WhatsApp by 081 709 5193.
Verskafde videos:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’