MOTORING NUUS - Voertuigverkope in September vanjaar het aansienlik gestyg ondanks negatiewe politieke sentimente wat deur die ANC se leierskapstryd aangeblaas word.
Nuwe voertuigverkope het deur die 50 000-kerf gedring (50 675) wat 3 318 beter is as September 2016 se syfers.
Wat nuwe passasiersmotors betref was die totaal 33 669 - 1 868 meer as 'n jaar gelede.
Hierdie 5,9% verbetering het ook deurgesyfer na ligte handelsvoertuie waar 14 523 nuwe voertuie nuwe eienaars gevind het.
Hier was die styging 11,7% oftewel 'n bykomende 1 520 eenhede.
In die Top 10-kategorie vir alle vervaardigers was Toyota wéér bobaas met 'n indrukwekkende totaal van 11 123 voertuie, gevolg deur Volkswagen (8 012) in die gebruiklike tweede plek.
Toyota se prestasie word onderskraag deur Hilux, wat met uitmuntende verkope van 3 995 eenhede net-net die vierduisend-kerf misgeloop het.
Dit het vir Toyota dan ook die algehele topverkoper opgelewer.
Volkswagen se sterkste punt bly egter sy passasiervoertuie waar Polo Vivo (2 942),
Polo (2 324) en die groep se Audi-reeks (794 eenhede) goed presteer het.
Soos in Augustus, behoort die derde plek weer aan Ford wat met sy Ranger-reeks (2 337), Fiesta (1447) en EcoSport (814) 'n goeie balans handhaaf tussen passasier- en handelsvoertuie.
Nissan, wat in die verlede dikwels in die sesde plek was, groei indrukwekkend en September-verkope (5 098) word sterk ondersteun deur Datsun GO (558), Qashqai (370), asook die NP200 (1 638) en NP300 met 'n totaal van 947.
Dit het dan ook hierdie Japanse maatskappy na die vierde plek opgeskuif.
'n Verrassende nuweling in die vyfde plek, Hyundai, het sy vordering te danke aan die i20 op 577 verkope, Tucson (480) en Grand i10 (490). Hyundai se totaal vir September was 'n stewige 3 147 eenhede verkoop.
Dit is veral noemenswaardig dat die Tucson heelwat beter gevaar het as Volkswagen se ewe indrukwekkende Tiguan wat maar net 224 verkope kon aanteken.
Die geleidelike verdwyning van GM en die steeds toenemende betrokkenheid van Isuzu het gesorg vir 'n sesde plek en 'n totaal van
2 609. Hiervan was dit veral Isuzu KB se 1 440, Chev Ute se 412 en die maatskappy se Opel-handelsnaam (271) wat die syfers taamlik goed laat lyk.
Sewende plek onder die tien bestes behoort aan Mercedes-Benz (2 476) wat nie individuele model verkope bekend maak nie, terwyl Renault kort op sy hakke is met 'n stewige totaal van 2 399 eenhede.
Renault se presteerders was onder meer Kwid (758), Sandero II op 413 verkope, asook Kadjar met 342 verkope.
Een van die beste prestasies in September is dié van Kia wat sy tiende plek en 1 575 totaal in Augustus verruil vir die negende plek en 'n indrukwekkende 2 007 eenhede verkoop.
Hierteenoor behoort die laaste plek aan BMW wat 'n verkopedaling van 1 805 na 1 664 ondervind het.
Die maatskappy kan egter trots wees op sy 5 186 voertuie wat uitgevoer is.
Onder die vervaardigers wat buite die tien bestes val, het Porsche oudergewoonte goed vertoon met 102 voertuie wat van die hand gesit is.
Eweneens het Mitsubishi, na 'n swak Augustus 146 voertuie verkoop - waaronder 30 van die puik nuwe Pajero Sport.
Vir sommige vervaardigers en invoerders duur die gesukkel voort en hier dink 'n mens aan Chrysler SA (151) en Peugeot (90).
Onder die invoerders van über-luukse voertuie het Maserati geen rede om te kla oor sy 18 verkope nie, terwyl Ferrari slegs een stel wiele van die hand gesit het.
Bentley het drie verkope aangeteken, maar volgens die Naamsa-tabelle het niemand die beursie vir 'n Lamborghini uitgehaal nie.
TOP-TIEN PASSASIERMOTORS
- Volkswagen Polo Vivo - 2 942
- Volkswagen Polo - 2 324
- Toyota Corolla/Auris/Quest - 1 845
- Ford Fiesta - 1 447
- Toyota Fortuner - 999
- Toyota Etios - 974
- KIA Picanto - 970
- Ford EcoSport - 814
- Renault Kwid - 758
- Hyundai i20 - 577
TOPTIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE
- Toyota Hilux - 3 995
- Ford Ranger - 2 337
- Nissan NP200 - 1 638
- Isuzu KB - 1 440
- Toyota Quantum - 1 217
- Nissan NP300 - 947
- Chev Ute - 412
- Hyundai H1 - 320
- Toyota Land Cruiser PU - 300
- Volkswagen Amarok - 224
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'