MOTOR NUUS - Suzuki, die Japanse spesialis stadsmotorvervaardiger, is aangewys as Suid-Afrika se handelsnaam van die jaar tydens die jaarlikse Cars.co.za-toekennings wat deur WesBank geborg word.
Met dié prestasie word Suzuki die enigste wat dié toekenning meer as een keer kon wen en ook die eerste om die toekenning te behou.
"Hierdie toekenning neem slegs vraelys-terugvoer van eienaars en gebruikers in ag. Ons meen dit bewys dat ons harde werk aan diensvlakke, voertuigpryse en modelreekse deur die mark verwelkom is," sê Yukio Sato, besturende direkteur van Suzuki Auto Suid-Afrika.
Cars.co.za en spesialiste van Lightstone Auto het saamgespan om 12 000 gebruikers se insae oor hul voertuie in te samel.
Vir die ander kategorieë het die organiseerders ook die gebruikersinsae in ag geneem en daaruit 'n groep semi-finaliste gekies.
Dié voertuie is deur altesame 39 beoordelaars by die Gerotek-toetsterrein in Pretoria beoordeel.
Die beoordelaars se terugvoer is by die res gevoeg om die wenners in die verskeie voertuig-kategorieë te bepaal.
Naas die algehele prys, is Suzuki nog twee keer na die podium geroep om kategorie-pryse te ontvang in albei kategorieë waarin hy meegeding het – intreevlak- en kompakte gesinsvoertuie.
Vitara is die kompakte gesinsvoertuig van die jaar vir die tweede agtereenvolgende jaar. In die kategorie vir intreevlak-motors was Ignis die algehele wenner en het hy die mantel by die Suzuki Celerio oorgeneem.
Hierdie kategorie sluit slegs voertuie in wat R175 000 of minder kos.
Beoordelaars het veral gekyk na brandstofverbruik, bekostigbaarheid en die gebruik van ingenieursvernuf om goeie waarde te bied.
Die Ignis het besonder hoë punte van gebruikers ontvang.
"Ons het besluit om geen prysverhogings op die Ignis te hef nie, omdat daar só baie mense op die waglys is," sê Sato.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'